Sacred Heart vier 100 jaar!

By die bekendstelling van Sacred Heart Primêr op Oudtshoorn se eeufeesprogram het die gees hoog geloop, met die trompoppies en ’n orkes wat die geleentheid nog meer feestelik gemaak het. Al die kinders was teenwoordig by hierdie spesiale affêre. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

Eeufeesprogram bekendgestel

DIT is nie aldag dat ’n skool kan spog dat dit 50 jaar oud word nie, maar Sacred Heart Primêr op Oudtshoorn kan vanjaar met oorgawe sê dat dié skool vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier! En daar is vele items op hul feesvieringsprogram wat elke inwoner van die dorp deel sal kan maak van die partytjie.

Verlede jaar, op 25 November, het die skool sy eeufeesviering-program by die skool bekendgestel met onder meer ’n trompoppievertoning, die musiek van ’n plaaslike orkes, die seëning van die vieringe deur die Rooms-Katolieke biskop van Oudtshoorn, en die loslaat van ballonne wat se- kerlik kilometers ver gewaai is deur die dag se wind.

Sacred Heart Primêr, wat in Bridgton geleë is, is volgens die skool die grootste Rooms-Katolieke skool in die Suid-Kaap. Dit het as ’n klein rietgeboutjie met ’n kleivloer op 1 Junie 1923 die eerste keer sy deure oopgemaak. ’n Handvol Duitse Katolieke nonne het die skool met slegs 11 leerders begin. Binne ’n paar dae het die aantal kinders vertiendubbel en was daar meer as 100 kinders wat daar skoolgegaan het.

Hierdie syfer het sederdien eksponensieel gegroei, en kinders van die omgewing kan van graad 1 tot sewe hier skoolgaan.

Die eeufeesprogram is met ’n groot gejuig van die kinders en die geswaai van vlaggies, en so ook die embleem vir die feesvieringe bekendgestel.

Die program sal vanaf 17 Februarie tot en met die skool se verjaarsdag op 23 Julie loop, met ’n bykomstige geselligheid op 27 Julie.

Die program lyk as volg:
• Valentynsdans – 17 Februarie
• Mnr en Mej Eeufees Junior – 8 Maart
• Mnr en Mej Eeufees Senior – 9 Maart
• Opelug sang-vertoning – 22 April
• Potte wat prut – 3 Junie
• Verjaarsdag partytjie vir die leerders – 18 tot 21 Julie
• Eeufees-dinee – 22 Julie
• Verjaarsdag – 23 Julie
• Borgefunksie – 27 Julie (Deur Stefan Skapie Goosen)