Tanya die nommer 1 Gimmie ná 2022-eindeksamen

Tanya Smit met ’n gemiddelde persentasie van 94,86% vir matriek. Foto verskaf

OM aan die einde van jou matriekjaar ’n gemiddeld van meer as 90% te behaal is vanself ’n uitsonderlike prestasie, maar wanneer jou graad 10- en 11-jaar nog boonop in die middel van ’n wêreldwye pandemie en beurtkrag plaasgevind het, is dit nog meer indrukwekkend. Dit is presies wat Tanya Smit (19), Langenhoven Gimnasium se toppresteerder, vermag het met haar gemiddeld van 94,86% en ’n totaal van sewe A-simbole!

Sy was boonop die skool se toppresteerder in lewensoriëntering (95%, gedeel met Franke du Plooy), besigheidstudies (99%), inligtingstegnologie (96%), wiskunde (96%) en Engels eerste addisionele taal (93%, gedeel met Liebe Viljoen en Jannike van Rensburg). Die res van haar vakke waarin sy A-simbole verwerf het is Afrikaans huistaal en rekeningkunde.

Tanya gaan vanjaar BRek aan die Universiteit Stellenbosch studeer, waar sy in die koshuis Nerina sal woon. “Ek hou baie van rekeningkunde en wiskunde, eintlik enigiets te doen met besigheid en so aan. Dit is my passie!”

Tanya vertel dat sy baie georganiseerd is en daarvan hou om logiese prosesse te volg, dit is dus te verstane dat sy ’n kop vir syfers het. “Ons het ’n baie oulike rekeningkunde-onderwyser gehad, Juffrou Helouise Pretorius, wat regtig baie passievol is, so ek sal definitief sê sy was ’n groot inspirasie vir my.”

Wanneer Tanya nie besig was om te studeer nie, het sy buite in die natuur gaan stap of draf. Sy vertel dat sy daarvan hou om ’n gesonde lewe te lei deur oefening te doen en gesond te eet. Maar sy is nie net heeltyd buite nie. “Ek hou ook baie van lees en om flieks te kyk is ook altyd lekker. Ek is net so mal daaroor om te bak en kos te maak!”

Op skool was Tanya die Dux-leerder en ook onderhoofmeisie by die skool en koshuis. Sy het verskeie toekennings by verlede jaar se prysuit-deling ontvang, insluitend die wisseltrofee vir die veelsydigste graad 12-leerder wat sy met Franke du Plooy gedeel het. Saam met Franke het sy ook die Langenhoven Gimnasium-wisseltrofee ontvang vir ’n ‘leerder wat ’n voorbeeld is van die soort leerder wat die skool in Langenhoven Gimnasium wil sien ontwikkel’. Verder het sy saam met drie ander mede-skoliere die Jeanne-Mari Basson-wisseltrofee vir geestelike bydrae op verskeie terreine ontvang.

Ma Bettie en pa Kobus is beide rekenmeesters, en Tanya voeg by dat dit ook gehelp het om haar belangstelling in die bedryf aan te vuur. Hulle bly op Mosselbaai.

Tanya se tweelingsussie Karla het net so goed gedoen in die eindeksamen, met ’n gemiddelde persentasie van 85%. Karla was saam met Danna Hough die toppresteerder in ingenieursgrafika en ontwerp met ’n punt van 92%. Karla gaan ook Stellenbosch toe, maar sy en Tanya gaan vir die eerste keer nie saambly nie. “Ons is baie ‘close’ en ek is baie lief vir haar. Ons verskil baie maar ons vul mekaar baie goed aan,” vertel sy.

Volgens Tanya is al haar prestasies slegs te danke aan die krag wat die Here haar gegee het. “Alle eer aan Hom! Ek is ook baie dankbaar vir wat Hy my gegee het, en die vermoë om met al hierdie talente te woeker.”

Sy wil ook graag dankbaarheid teenoor die skool en al haar onderwysers betoon. (Deur Stefan Skapie Goosen)