“Ons is baie opgewonde by Gimmies om vanjaar die 30 jarige verjaarsdag te vier en wanneer ons terugkyk is daar rede om oneindig dankbaar te wees hoe die skool ontwikkel het.” so het skoolhoof, Stephanus Potgieter, aan Die Hoorn gesê “Oupas en oumas se kleinkinders sluit by ons aan, wat beteken dat ’n ryke tradisie voortgesit word.” vertel hy verder.
Hou die skool se sosiale media bladsy gerus dop om te verseker dat hierdie geleenthede bywoon en ondersteun word.
Die geskiedenis:
In 1913 is die Industriële Skool deur die NG Kerk gestig met die doel om aan seuns die geleent-heid te bied om hulself in ’n ambag te bekwaam.
Nadat die Unie-Onderwysdepartement die skool in 1930 oorgeneem het, is ’n volwaardige handelsrigting saam met die ambagsrigting ingestel.
Vanaf 5 Junie 1935 staan die skool amptelik bekend as Langenhoven Vakskool. In 1935 is daar besluit dat die skool twee afsonderlike skole sal word.
Vanaf 1 April 1936 staan die twee skole bekend as die Hoër Handelskool Langenhoven en die Ambagskool.
Die Hoër Handelskool Langenhoven is eers in die Forstergebou, vanaf 1938 in ’n gebou langsaan en in 1971 in die nuwe skoolgebou op die hoek van Adderleystraat en Voortrekkerweg gehuisves.
Die Ambagskool verhuis in 1945 na Lugskool 45, die bekende Suid-Basis, en staan van toe af bekend as die Hoër Tegniese Skool.
Op 10 Augustus 1977 is die nuwe skool- en koshuisgeboue, waarin die leerders tans onderrig en gehuisves word, in gebruik geneem.
Vanaf 1 Januarie 1987 verkry die Handelskool die status van gewone hoërskool en word die naam verander na Hoërskool CJ Langenhoven. Vanaf 1 Mei 1992 word beide skole Model C-skole en hulle amalgameer op 1 Januarie 1993. Op 19 Januarie 1993 word die nuwe skool, Langenhoven Gimnasium, met ’n algemene, ’n handels- en ’n ingenieursrigting geopen.
Op hierdie wyse herhaal die geskiedenis hom dus met die hersamevoeging van die twee skole, ná ’n skeiding van 57 jaar.
Vanjaar vier Langenhoven Gimnasium 30 jaar van uitnemendheid!
Die skool nooi alle oud-skoliere en oud-onderwysers uit om hulle inligting te stuur na admin@lgim.co.za om so op hoogte gehou te word van al die feesvieringe wat hierdie jaar gaan plaasvind.
“Baie welkom by ons skool.” sluit Potgieter af.
Langenhoven Gimnasium vier 30 jaar van uitnemendheid
