Vrylopende jagluiperdwelpies op Buffelsdrift ’n ‘bewaringsukses’

Oudtshoorn-omgewing se eerste vrylopende jagluiperdwelpies gebore! Die eerste twee vrylopende jagluiperdwelpies wat in die Oudtshoorn-omgewing gebore is saam met hul ma op Buffelsdrift Game Lodge waar hulle die eerste lewenslig aanskou het. Foto's: Arrie Crafford

DIE geboorte van twee vrylopende jagluiperdwelpies by die Buffelsdrift Game Lodge net buite Oudtshoorn op die Kango Grotte-pad, is volgens die bestuur van die reservaat ’n eerste vir die Oudtshoorn-omgewing en ook ’n groot bewaringsukses!

Die vrylopende jaglui­perdprojek word die afgelope meer as drie jaar in die reservaat bedryf.

Die Hoorn het in Mei 2021 die ontwykende jagluiperds saam met personeel van Buffelsdrift gaan probeer opspoor, en was dié dag gelukkig om die mannetjie raak te loop pas nadat hy ’n bok platgetrek het!

Die welpies was tot dusver net so skugter en skaam soos hul ma. Eers Maandag (16 Mei) kon hulle behoorlik deur personeel in die reservaat afgeneem word.

Die mannetjie loop al sowat twee jaar in die reservaat in sy eie habitat rond, terwyl die wyfie sowat ’n jaar minder vrylopend in die reservaat rondloop.

Volgens Arrie Crafford, bestuurder van die Buffelsdrift Stigting wat na die welsyn en gesondheid van die jagluiperds omsien, bied die vrylopende jagluiperdprojek vir besoekers die unieke geleent­heid om die jagluiperds te voet in die reservaat op te spoor en te besigtig – onder die leiding van opgeleide gidse.

Dié pragdiere word met hoë frekwensie- ontvan­gers opgespoor wat deur middel van ’n halsband om die jag­luiperd se nek “kommunikeer”.

Dié jagluiperdervaring maak deel uit van die jagluiperd-metapopulasieprojek van die Endangered Wildlife Trust (EWT). Die doel daarvan is om bewaringsbewustheid te skep en besoekers ’n eenmalige erva­ring te bied. En omdat die bewaring van habitat vir spesies soos jagluiperds ’n belang-rike uitdaging is, het Buffelsdrift besluit om deur dié projek ’n bydrae te lewer.

Volgens Crafford glo die Buffelsdrift-span dat die geboorte van die twee wilde welpies die eerste keer is dat vrylopende jagluiperds in hul “natuurlike habitat” hier in Oudtshoorn aanteel.

“Ons was verheug toe ons die foto’s van die twee welpies en die wyfie op een van ons veldkamera’s opgemerk het. Op grond van hul grootte is hulle tussen ses en agt weke oud.”

Dit is ook merkwaardig dat die mannetjie en wyfie – ten spyte daarvan dat hulle afsonderlik op die reservaat vrygelaat is – begin aanteel het, “selfs in hierdie omstandighede,” sê hy.

Volgens Crafford wys dit dat die diere goed in hul omgewing aangepas het, dat hulle genoegsame voedsel kry om na twee welpies te kan omsien, en dat die teenwoordigheid van die mense rondom hulle hul nie steur nie.

Crafford sê die liefdesverhaal tussen die twee volwasse jagluiperds het sowat vyf maande gelede begin toe die span agtergekom het dat die wyfie se bewegingspatrone verander het.

“Waar sy in die verlede bykans die hele 1 500 ha waarin sy losgelaat is, benut het, het sy in daardie tyd in ’n baie klein gebied naby die koppies op die reservaat gebly. Sy het nie meer as ’n kilometer in radius van een spesifieke plek beweeg nie.”

Hy sê dit is toe dat die span besef het wat moontlik besig was om te gebeur. Hulle het hul veldkameras só opgestel dat dit die wyfie se bewegings sou dek.

“Ons het ook die omstandighede met Vincent van der Merwe, koördineerder van die jagluiperd-metapopulasieprojek van die EWT bespreek, en hy het ook vermoed dat die wyfie waarskynlik swaar dragtig is en gereed gemaak het om die welpies in die lewe te bring.”

Volgens Crafford is jagluiperdwelpies vir die eerste ses tot agt weke van hul lewens baie vas aan hul ma, en bly hulle op die plek waar hul ma hul wegsteek – net soos dit in die natuur sou gebeur.

Hy sê dat die klein gespikkelde gediertes nou tot 18 maande aan hul ma se sy sal bly.

Hulle sal deurgaans gemoniteer word en sodra hulle oud genoeg is, sal die welpies hul eie radiohalsbande kry.

Een van die projek se doelwitte is om jag­lui­perds elders te hervestig, en dus sal hulle volgens Crafford waarskynlik na ander EWT-goedge­keurde bewaringsgebiede verskuif word.

“Dit sal inteling hier op Buffelsdrift voorkom,” sê hy. (Deur Stefan Skapie Goosen)