‘Pienkvoetjies op hoëhakskoentjies’

Christolene Pêrel versorg haar vark-“kindertjies” met liefde. Foto: Deon Meyer

CANDICE, Claudine, Cheree en Charles klink dalk na die name van ’n ouerpaar wat besluit het hul kinders se name sal met ’n “C” begin.

Dit is egter die name van vier varkies waarmee Calitzdorp se bekendste entrepreneurs, Eleanor Gysman en Christolene Pêrel, hul varkboerdery begin het.

Gysman vertel: “Daar is plantproduksie en nou ook diereproduksie. Die viertjies was ses maande oud toe ons hulle gekoop het. Dit was vir produksie en om onsself op te lei in varkboerdery.”

Gysman sê met die eerste probeerslag om te teel is 15 varkies gebore, maar net agt het oorleef. “Candice en Charles se kleintjies is almal dood omdat die sog hulle verwerp het, maar Cheree en Candice het agt kleintjies gehad.”

Intussen is die besigheid met die “pienkvoetjies op hoëhakskoentjies” aan die uitbrei. Dié entrepreneurs is daarvan oortuig dat hulle dié varkboerdery so gaan uitbrei dat dit uiteindelik werksgeleent­hede vir ’n paar mense van Calitzdorp sal skep. (Deur Deon Meyer)