Toename in diefstal van koperkabels op Oudtshoorn: Polisie vra hulp

DIE Oudtshoorn Polisie het vandeesweek gewaar­sku dat koperkabeldiefstal op die dorp toeneem, en inwoners van die omgewing versoek om hand by te sit en inligting te verskaf wat kan help om vermeende diewe vas te vang en so hierdie tendens van diefstal hok te slaan.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het diefstal van koperkabels oor die afgelope weke sodanig toegeneem dat duisende rande se koperkabels in die slag gebly het.

Visser sê dat daar in een voorval op ’n wilds­plaas in die omgewing, 200 m se elektriese ko­perkabels ter waarde van R20 000 gesteel is. Dié diefstal het tussen 11 en 13 Mei plaasgevind.

Nog ’n voorval het op die R328, die Mosselbaaipad, plaasgevind toe boewe koper- en optiese veselkabels met ’n waarde van R16 000 geknip en gesteel het.

Buiten hierdie voorvalle was daar ook verskeie voorvalle van kabeldiefstal in Bridgton en elders in die dorp.

Visser sê koperkabels sowel as Telkom-kabels is geteiken.

“Daar is sedert die begin van die maand reeds sewe mense in hegtenis geneem vir onder meer die besit van koper én kabels wat in hulle besit gevind is,” sê hy.

Brig Susan Crafford, stasiebevelvoerder op Oudtshoorn, het ’n beroep op inwoners gedoen om die polisie te skakel indien hulle oor enige inligting beskik wat die polisie kan help om hierdie sake op te los.

“Laat weet asseblief die polisie as jy enige verdagte bedrywighede sien wat moontlik verband hou met die steel van kabels of koperkrane en ko­perpype,” sê sy.

Skakel die Oudtshoorn Speurders by 082 302 4395 of 044 203 9127 met enige inligting.

Alle inligting aan die polisie sal vertroulik hanteer word.