Oudtshoorn Munisipale en raadsake: Aanstelling van assistent deursigtig en volgens wetgewing, sê betrokkenes

’N DEURSIGTIGE proses wat aan alle relevante wetgewing voldoen, is gevolg by die aanstelling van ’n dogter van die Groter Oudtshoorn se nuwe onderburgemeester, Leon Campher, as sy persoonlike assistent, sê betrokkenes.

“Daar is geen nasionale wetgewing wat die aan­stelling van familielede van ’n munisipale amptenaar of raadslid by ’n munisipaliteit verhoed nie,’’ sê die waarnemende mu­nisipale bestuurder, Walter Hendricks.

Volgens hom moet slegs verklaar word dat die persoon ’n familielid is en ’n deursigtige pro­­ses ingevolge wetgewing gevolg word.

“Die onderburgemeester se dogter was reeds in diens van die munisipaliteit en is net na sy kantoor gesekondeer. Dié aanstelling is deur my goed­ge­keur en afgeteken aangesien dit ook koste bespaar.”

Campher het self openhartig met Die Hoorn oor die aanstelling gepraat. Volgens hom het sy dogter haar studie aan die Universiteit van die Wes-Kaap in 2019 klaargemaak, en in 2020 met ’n internskap by die munisipaliteit begin. Omdat sy as gevolg van Covid-19-regulasies by die munisipaliteit nie elke dag kon werk nie en dus nie die vereiste aantal dae kon werk nie, is haar kontrak verleng. Sy was dus reeds werksaam by die munisipaliteit toe Camp­- her in November 2021 tot raadslid verkies is.

“Toe ek as onderburgemeester aangestel is en ’n persoonlike assistent moes aanstel, het ek gaan sit en dink en toe besef dat dit om twee redes die beste vir my sal wees as my dogter in my kantoor kan werk: sy werk reeds as intern by die munisipaliteit en deur nie iemand van buite in te bring nie, spaar die munisipaliteit geld, en boonop vertrou ek haar en kan so verseker my kantoor is veilig.”

Campher sê hy het die kwessie met die munisipale bestuurder en die hoof van menslike hulpbronne bespreek om hul menings te hoor. “Daar was geen nepotisme of verskuilde agenda nie.”

Vakature vir raadslid van Suid-Kaap Saamstaan
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het die kantoor van die waarnemende munisipale bestuurder ingevolge relevante wetgewing reeds ’n vakature ver­­klaar vir ’n nuwe raadslid vir Suid-Kaap Saamstaan nadat Mlandeli Nyuka as raadslid verwyder is. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die party reeds versoek om die naam van hul nuwe raadslid binne 21 dae aan hulle te voorsien, waarna die OVK die munisipaliteit sal inlig.

Optrede teen Hendricks toe nie bespreek
Die aanvanklike agendapunt waarvoor ’n spesiale raadsvergadering verlede Donderdag gereël is – voorgestelde dissiplinêre optrede teen Hendricks – is uiteindelik nie bespreek nie. Slegs ’n agendapunt oor Huis Triomf, wat die Woensdag op die agenda geplaas is, is bespreek.

’n Kaapse dagblad het verlede week berig die 13 raadslede wat Hendricks ’n vorige keer probeer verwyder het, wou dit Donderdag wettig probeer doen het nadat die Hooggeregshof in George be­vind het die verwydering van Hendricks deur ’n mosie op 22 April, was onwettig. Donderdag se vergadering is egter deur die speaker, Colan Sylvester, beëindig direk nadat die agendapunt oor Huis Triomf bespreek is. (Deur Liesel le Roux)