DIE saak teen ’n vrou (42) van Oudts-hoorn wat in 2021 ’n opgeskorte vonnis van drie jaar gevangenisstraf vir diefstal opgelê is, en nie by die voorwaardes gehou het nie, is verlede week in die distrikshof tot 8 November uitgestel omdat die klaer eers dan beskikbaar sal wees om ten opsigte van die terugbetaling van die gesteelde geld te getuig.
Monique Foley is op 26 Januarie 2021 daaraan skuldig bevind dat sy die geld van die Kannaland Mediese Kliniek ge-steel het terwyl sy in diens was van ‘n rekenmeestersfirma wat die kliniek se finansies hanteer het.
Die hof het toe ook gelas dat sy die geld in 77 maandelikse paaiemente van R1 000 moet terugbetaal.
Sy het verlede week getuig dat sy nie met die afbetaling kon volhou nie omdat haar pa wat haar gehelp het, baie siek geword het, en sy met haar huidige inkomste net R200 en op die meeste R300 per maand kan betaal.
Landdros Vaughn Shone wou van Foley weet waarom sy vir ses maande, vanaf Januarie tot Junie vanjaar, nie haar saak in die hof kom stel het in plaas daarvan om stil te bly nie. Die saak is op versoek van die staatsaanklaer, Thuba Nyamati, vir die mening van die klaer uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)