
Oudtshoorn het Woensdagaand, 18 Oktober, op die gewilde televisieprogram, Lottoland Help ’n Dorp op KykNet gepronk, waar 13 dorpe gekies is om opgraderings te doen wat die dorp se ekonomie sal bevorder.
Die Besigheidskamer van Oudtshoorn in samewerking met die Oudtshoorn en De Rust Toe-rismeburo en die Oudtshoorn Munisipalitiet het aansoek gedoen by Lottoland en gevra om die dorp te help sodat hulle een van hul grootste toerisme attraksies, die Kango Grotte, se ingang kan mooi maak en dit ’n blywende indruk op die toeriste wat dit kom besoek, sal hê.
Abri Ferreira, voorsitter van die Besigheidskamer, het die goeie nuus ontvang dat die aansoek suksesvol was en dat Oudtshoorn R200 000 gaan ontvang vir die projek.
Die voorwaardes van die skenking is dat die opgraderings binne 4 weke voltooi moet wees. Die wiel is aan die rol gesit en planne is inderhaas gemaak.
Anton Roetz, inwoner en beeldhouer van Oudtshoorn, is gevra om die meer as 6 ton staalnaambord vir die ingang van die grotte te ontwerp en te maak.
Die tuine is mooigemaak, asook nuutgeverfde asblikke en mure het aan die grotte ’n splinternuwe baadjie gegee. “Dit is die eerste ding wat mense sien as hulle inkom by die Kango Grotte. Soveel mense neem foto’s daarvan. Daardie foto’s gaan natuurlik reguit sosiale media toe en ons is dankbaar daarvoor.” het Corleen Barnard, Toerisme-bestuurder van Oudtshoorn en De Rust Toerisme gesê. (Deur Lindi Brill)