Vrou helder oordag beroof van selfoon ter waarde van R3 500

’n Inwoner het hierdie foto in Baron van Reedestraat geneem toe die polisie op die toneel kom. Foto verskaf

DIE Oudtshoorn Polisie vra inwoners van die dorp om hulp of inligting nadat ’n verdagte ’n vrou se handsak in Baron van Reedestraat gegryp het en verdwyn het met haar seloon.

Die polisie ondersoek gevolglik ’n saak van roof.

Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die polisie, het die voorval Maandag (28 November) omstreeks 09:00 in dié straat, by die ACVV Tuishuis plaasgevind.

Die voorlopige ondersoek, sê Michaels, dui daarop dat die verdagte na bewering die klaer se handsak gegryp het en met haar selfoon ter waarde van R3 500 gevlug het.

Die vrou het volgens Michaels haar handsak later teruggekry, maar sonder die selfoon. Lt-kol Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, versoek dat enige persoon met inligting rakende die voorval die Oudtshoorn polisie kontak by 044 203 9000, of Stop Misdaad by 08600 10111.

• ’n Inwoner wat kort na die handsak gegryp is op die toneel afgekom het, het vertel dat die verdagte klaarblyklik ’n paar toeriste in die straat ook probeer beroof het, maar moontlik nie suksesvol was nie. Die toeriste was aan die teenoorgestelde kant van die pad geparkeer. (Deur Stefan Goosen)