DIT moet ook reën om groen stroke in jou lewe te sien, maar ook in die donkerste van dieptes, daar is God.
Doktor Richard Fortuin (70), is Saterdag vanuit die Pinkster Protestante Kerk, Ladismith begrawe en met hierdie woorde het die dienende Pastoor de Villiers die Fortuin-familie bemoedig. Fortuin het verlede week sy stryd teen kanker verloor.
Hoofman John Frieslaar het namens die Hessequa-Khoi hulde gebring aan die bydraes wat Dr. Fortuin aan die Khoi-gemeenskap gelewer het. “Vandag val en oorhandig ek jou mantel aan jou seun, Rudi wat voortaan as Chief Rudi bekend sal staan.”
Kollegas van die Towerkop Primêre Skool het Fortuin beskryf as ’n besondere goeie opvoeder. “Hy was so toegewyd, sy administratiewe stukke so pynlik netjies.”
Drie skooldogters het in trane hulde gebring aan die “Pa” wat hy vir hulle was.
Raheema Willemse, oud-leerder van Fortuin het roerend vertel hoe Dr. Fortuin “my kop met kennis gevul het, hoe ek net altyd moes beter en beter doen.”
Serach Fortuin, Dr. Fortuin se broer het begrafnisgangers ’n blik in hul familie se lewe gegee.
“Richard was soos ’n pa vir die jonger broers en susters.
Hy het die onderwysgemeenskap in Dubai as ambassadeur gaan verteenwoordig. Onderwys loop diep in ons familie.” (Deur Deon Meyer)