Vriendin glo verkrag deur saamleefmaat se man

DIE saak teen ’n man van Oudtshoorn wat van verkragting van ’n vriendin van sy saamleefmaat aangekla word, is in die streekhof vir argumente uitgestel.

Die 32-jarige Frans Moos word daarvan aangekla dat hy die klaer op 4 September 2021 verkrag het wat by hulle vir die aand oorgeslaap het.

Volgens Moos het die klaer die betrokke dag nadat sy by ’n begrafnis was, by hulle aangekom.

Nadat hulle saam meer as die helfte van ’n 5 liter houer wyn uitgedrink het, het sy, sy meisie gevra of sy by hulle kon oorslaap omdat dit reeds baie laat was.

Hy het agter sy meisie se rug gaan lê en die klaer op die kinders se bed in dieselfde kamer.

Hy kon nie verduidelik waarom sy die volgende oggend gestaan en huil het nie.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het met kruisondervraging dit aan Moos gestel dat hy die enigste man in die huis was wat die klaer kon verkrag het, omdat die deur van binne gesluit was.

Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks. (Deur Garnett Wicomb)