DIE saak teen ’n vrou van De Rust wat van moord op haar kêrel aangekla word, is in die Oudtshoorn streekhof na die getuienis van ’n dokter vir uitspraak tot 12 Julie uitgestel.
Die 47-jarige Karlien du Plessis pleit onskuldig op die klagte van moord en voer aan dat dit ’n ongeluk was.
Sy voer aan dat die oorledene, Isaac du Plessis (45), die aand van 11 Februarie 2022 dronk by die huis aangekom het met ’n 2 liter houer wyn, en haar begin skel het.
Sy het later gesê dat sy die wyn gaan vernietig. Sy het toe ’n mes wat op die tafel gelê het gegryp en die houer met die wyn begin stukkend steek.
Die oorledene het toe probeer om die wyn te gryp toe sy hom per ongeluk raak gesteek het.
Du Plessis se regshulpprokureur, Brian Carelse, vra die hof om haar onskuldig te bevind en te ontslaan omdat dit duidelik is dat sy nie bedoel het om moord te pleeg nie.
Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het Du Plessis die dood van haar kêrel veroorsaak waarvoor sy ’n verduideliking in die hof moet gee. Volgens die staat het die beskuldigde nie soos ’n redelike persoon opgetree nie. “Die oorledene was dronk en jy kan nie net blindelings steek nie,” het Plaatjies gesê.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is vir uitspraak uitgestel tot 12 Julie. (Deur Garnett Wicomb)