’n Man van Bridgton op Oudtshoorn wat aan huisbraak, seksuele aanranding van die ma van sy drie kinders, en die verontagsaming van sy borgtogvoorwaardes skuldig bevind is, is verlede week in die streekhof tronkstraf opgelê.
Die 39-jarige Marlin September het onskuldig gepleit op al die klagtes.
Hy het ontken dat hy in die huis was waar hy volgens ’n hofbevel nie moes kom nie en die vrou se vrouedele betas het. Volgens hom was hy buite die huis en met ’n stok deur ’n venster die klaer se been aangeraak om haar wakker te maak.
Streeklkanddros Daniel Boks het September se getuienis as vals bevind. Hy is aan ernstige misdrywe skuldig bevind, toon geen berou nie en luister nie na hofbevele nie.
Die hof het as versagting van vonnis die drie klagtes saamgeneem en hom ingevolge Art, 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy kan na die uitdiening van ’n sesde van die vonnis om parool aansoek doen. (Deur Garnett Wicomb)