Slaggat krisis word aangespreek

Munisipale werknemers, en Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson, besig om ’n groot gedeelte van Parkweg te herstel. Foto verskaf

Die uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson, het Maandag, 3 Julie, ’n dringende vergadering met die senior personeel van Strate en Stormwater, Water en Sanitasie sowel as Regeringsdienste gehad om die krisis van slaggate aan te spreek.

Macpherson het gesê dat daar besluit is om oor die loop van die volgende drie weke addisionele mannekrag en voertuie van ander departemente in te span om die groot aantal slaggate as prioriteit te hanteer. “Die normale program om die gedeeltes van strate soos Parkweg te herstel, sal voortgaan, maar die slaggate wat oral ontstaan het as gevolg van die afgelope maand se swaar reën, moet dringend aandag kry ”, het hy verduidelik.

Daar sal tien kleiner spanne ontplooi word wat net op slaggate gaan fokus. Hulle sal ook na-ure en Saterdae werk om die krisis te hanteer.

Macpherson doen ’n beroep op motoriste om versigtig te wees by die gedeeltes waar daar gewerk gaan word. Daar gaan kleiner spanne op meer plekke ontplooi word.

Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor die werknemers vir hul positiewe gesindheid en bereidwilligheid om te help, en ’n beroep op inwoners gedoen om geduldig te wees.

“Ons het begrip vir inwoners se frustrasies, maar ons vra ook begrip vir die geweldige invloed wat die oormatige reën teweeg gebring het”, het hy gesê.