
’N VOORVAL by die Bridgton Polisiestasie waar ’n oud-polisieman Shane van Briesies (44) deur ’n polisieman aan diens geskiet is, het ’n opskudding in die Oudtshoorn gemeenskap veroorsaak.
Van Briesies, wat vir 16 jaar self in die polisiediens gedien het, is Saterdag geskiet nadat hy na bewering ’n saak by die polisiestasie wou aanmeld.
Volgens sy ma Louieza van Briesies, wat haar gister van Misgund in die Langkloof na Oudtshoorn gehaas het, het die saak oor sy 16-jarige dogter gehandel.
“Shane het die wet geken en geweet hy kan nie die reg in eie hand neem nie, en daarom is hy na die polisiestasie toe om ’n saak te gaan maak om sy kind te beskerm,” het sy aan Die Hoorn vertel.
“Ek weet nie of ons mekaar weer gaan sien nie,” het Shane van Briesies vir sy twee-weke oue kleinkind gesê met hul eerste ontmoeting.
Volgens haar het ’n lid van die Onafhanklike Polisieondersoek Direktoraat (OPOD) haar eers Sondag van haar seun se dood ingelig. Hy is volgens inligting in die bors geskiet.
“Die twee ander polisiemanne aan diens het eerste op die toneel afgekom, waar my seun in die publieke area met ’n skietwond gelê het,” sê sy.
Sy vertel verder dat die skoot glo deur mense in die buurt gehoor is. “Waarom dit die ander twee polisielede so lank geneem het om op die toneel te kom is ’n raaisel.
Ek weet ook nie of hy in die polisiestasie, ambulans of by die hospitaal oorlede is nie.
Sy het soveel vrae oor wat daardie nag gebeur het, en hoop om antwoorde te kry, maar vir eers konsentreer sy net op dit wat voorlê soos die begrafnis en dink nie te veel aan die feit dat haar seun dood is nie.
Volgens haar was haar seun ’n sportiewe mens en ’n kranige rugbyspeler. Sy liggaam is Woensdag na George geneem, waar ’n lykskouing gedoen sal word en hopelik sal die familie antwoorde hê.
Van Briesies se begrafnis vind Saterdag 11:00 by Grace Church International, in Oudtshoorn plaas, maar mense kan reeds vanaf 10:00 by die familie in Hugenotestraat 4 aansluit.
Hy laat vier kinders, drie dogters en een seun en ’n kleinseun wat twee weke gelede gebore is agter.
Op ’n navraag aan die polisie het Die Hoorn die volgende antwoord van ao. Joseph Swartbooi, woordvoerder van die Wes-Kaap Polisie Mediasentrum ontvang.
“Die omstandighede rondom die voorval wat in jou ondersoek aangehaal word, is nou die onderwerp van ’n ondersoek deur die Onafhanklike Polisieondersoek Direktoraat (OPOD). Stuur asseblief jou navraag aan die woordvoerder van die departement vir ‘n antwoord.”
Die Hoorn het toe ’n navraag aan OPOD gestuur en die volgende mediaverklaring ontvang.
“OPOD is bewus van die voorval. Daar word beweer dat die oorledene by die polisiestasie opgedaag het om ’n saak aan te meld. ’n Polisiebeampte wou hom nie bystaan nie op grond daarvan dat hy dronk was. Hy sou eers bygestaan word sodra hy nugter was.”
“Daar word beweer dat die oorledene die polisiebeampte op die kop en op die arm gesteek het. Die polisiebeampte het toe die oorledene noodlottig geskiet.”
“Die polisiebeampte is na bewering na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.” het Robbie Raburabu, nasionale woordvoerder van die OPOD gesê.