
LInks: John-Lee Johnson se familie op die plek in hul huis waar hy neergeval en gesterf het; met ’n foto van hom op sy matriekafskeid. Van links is sy ma, Ingrid Johnson; sy suster Ingrolene; en sy pa, Johnathan Moos. Voor is John-Lee se susterskind.
Foto: Stefan Goosen
’N FAMILIE van Oudtshoorn het Saterdag toegekyk hoe hul kind, broer en oom in hul huis ineenstort en sterf nadat hy minder as 100 meter van die huis met ’n mes in sy nek gesteek is.
Die Oudtshoorn Polisie ondersoek volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, ’n klag van moord nadat John-Lee Johnson (23) omstreeks 12:46 by ’n kafee naby sy huis in die nek gesteek is. Hy het van die toneel terug gehardloop huis toe en daar ineengestort en gesterf. Michaels sê ’n 20-jarige verdagte is in hegtenis geneem.
Ingrolene Johnson, John-Lee se suster, sê die aanval op John-Lee is as gevolg van ’n onderonsie wat reeds die vorige naweek by ’n nuwe kuierplek in die omgewing plaasgevind het. “John-Lee en een van sy vriende was blykbaar daai naweek betrokke by ’n bakleiery, en soos die week aangegaan het was daar geen ‘terugkommery’ van dié goed af nie. Die afgelope naweek was John-Lee en sy vriende in die vlak hier agter ons huis. Ek weet nie wat daar gebeur het nie, maar toe kom hulle terug. Als was oor en verby,” vertel sy.
Maar dit was juis Saterdag dat die pa van die verdagte, volgens haar, by John-Lee se huis opgedaag het, “reeds met ’n skerp ding om my broer mee seer te maak,” sê sy.
Ingrid Johnson, John-Lee se ma, vertel die pa van die verdagte het Saterdagoggend haar seun kom aanvat, maar John-Lee het vir die man gesê hy was nie betrokke by die vorige naweek se bakleiery nie. “Ek het niks aan jou kind gedoen nie,” het John-Lee volgens sy ma aan die man gesê.
“Die man wou niks hoor nie, toe gaan ek uit en sê vir hom; ‘jy kom baklei mos nou vir jou kind, nou hier’s ek, ek baklei vir my kind. Maak my dood, dan los jy my kind’, het ek vir hom gesê. Toe sê hy vir my; ‘jy kan maar raas, want jy gaan nog vandag huil. Ek gaan jou kind se hart vandag eet.’
“Hy het dit twee keer genoem,” sê sy.
Volgens Johnsen het die verdagte se pa geweier om rede te verstaan. “John-Lee was by die Bongolethu polisiekantoor daai oggend, maar die hekke was toe. Hy was selfs by die man se huis, saam met sy oom, om te verduidelik dat hy nie by die bakleiery betrokke was nie,” sê sy.
Dit lyk vir die familie of die voorval van die vorige naweek ’n misverstand was.
Jonathan Moos, John-Lee se pa, sê dit was die verdagte se pa wat hom aangemoedig het om John-Lee aan te val. “My broer het my vertel wat aangegaan het. My seun was reeds vreesbevange, en nadat my broer van die storie gehoor het, het hy met die verdagte se pa, wat oor 60 die jaar oud is, gaan praat. My broer het hom gevra; ‘hoekom los jy nie die kind uit nie, en wag vir sy pa? Dan sorteer julle as ouers die ding uit soos grootmanne’.
“Toe sê daai man vir my broer hy gaan vandag my seun se bloed drink. Hy het gesê hy gaan hom doodsteek en sy hart eet,” vertel Moos.
Volgens hom wou die verdagte se pa toe reeds ’n mes uitpluk. “Hy is ’n ou bendelid,” sê Moos.
Dit was ná dié onderonsie by die verdagte se pa se huis, sê Moos, dat John-Lee en sy oom terug huistoe is, en John-Lee later na die kafee naby sy huis is. “My seun is volgens die winkeleienaar daar in die nek gesteek. Sy susterskind was by hom. Hy is van agteraf gesteek, toe kom hy huistoe, en staan hier by Ingrolene,” sê Moos.
Volgens Ingrolene het hy net daar inmekaar gesak. “Dit was sy laaste,” sê sy.
Moos glo, en hy sê die inwonders rondom hulle glo dieselfde, dat as die polisiekantoor se hekke oop was, sou sy seun waarskynlik oorleef het. “Hy sou die polisie kon inlig hy is met die dood gedreig. Die hek moet blykbaar met ’n ‘remote’ oopgemaak word,” sê hy.
Met Die Hoorn se besoek was John-Lee se gesin op pad om sy lyk uit te ken en begrafnisreëlings te tref.
Hulle sê hulle sal John-Lee onthou as ’n vreugdevolle mens.
“John-Lee was rustig. Ons was elke dag hier by die huis saam. Hy het sy eie maniere gehad wat altyd mense laat lag het.”
John-Lee het volgens sy familie met volstruisvere gewerk. Hy word oorleef deur ’n kind en sy swanger meisie. Moos sê dat
John-Lee se hond, Kiara, steeds elke dag na hom soek. (Deur Stefan Goosen)
Alle sterkte ons bid samet die familie
It’s a sad story about John-Lee in Oudtshoorn we pray for his family God are with his family
Die wettelose Suid Afrika is die oorsaak van al hierdie tipe harteloosheid, mense weet hulle kom niks oor nie en skrik nie vir die gereg nie