Wie gaan septer swaai in Kannaland?

Kannaland Independant Party wat ’n belangrike sleutel in die nuwe raad kan inhou. Foto: Deon Meyer

KANNALAND se munisipale raad het ’n splinternuwe rolspeler wat waarskynlik betrokke sal raak by ’n veelpar­ty-koalisie in die munisipale raad.

Die Kannaland Independant Party (KIP) het genoeg steun verwerf om volgens die proporsionele stelsel een raadslid te benoem.

Die ANC het geen wyk gewen nie, maar wel twee proporsionele raads­lede verkry. Die DA het een wyk gewen met een raadslid, terwyl Icosa drie van die sewe wyke gewen het, maar geen proporsionele setel verkry het nie.

Die Kannaland-raad sien nou so daaruit: Icosa – drie raadslede; ANC – twee raadslede; DA – een raadslid; en KIP – een raadslid.

Inwoners van die streek vra egter nou die volgende vrae: Wie gaan nou die dorp regeer, wie gaan nou saam met wie in die spreekwoordelike bed spring? Wie gaan die nuwe burgemeester wees?

Dit wil voorkom dat KIP ’n sleu­telrol in die raad kan speel.

Die politici se monde is egter nog gesnoer oor moontlike samewer­kings­ooreenkomste.

Die uitslagpersentasies vir die partye teen Maandag was: Icosa – 45,2%, ANC – 21,52%, DA – 20,52% en KIP – 7,49%.
Inwoners sal egter moet wag tot ná die eerste sitting van die munisipale raad om uit te vind watter ooreenkomste gesluit is.

Daar kan verwag word dat daar agter die skerms hard na mekaar gevry sal word…(Deur Deon Meyer)