DIE KKNK, die Kango Grotte, die SA Tweekampkampioenskap, Zoar Oesfees en kerklike bedrywighede was die week onder die slagoffers van die koronavirus.
Soos elders in Suid-Afrika het die wêreldwye uitbreking van die koronavirus talle kulturele en sportbyeenkomste in die Klein Karoo gekelder.
Die besluit deur die bestuur en direksie van die KKNK om vanjaar se 26ste fees te kanselleer, is nie ligtelik geneem nie,” sê die artistieke direkteur van die fees, Hugo Theart.
“Dit is voorafgegaan deur indringende konsultasie met gesondheidsowerhede, die plaaslike regering, die hoofborg, Absa, vennote en ander rolspelers.
“Dit is in almal wat betrokke is by die fees – kunstenaars, sakevennote, besoekers en inwoners – se belang dat ons dié moeilike besluit geneem het.”
Crispin Sonn, voorsitter van die direksie, sê die besluit is genoodsaak deur die toenemende erns van die Covid-19-pandemie. “Die KKNK is reeds die afgelope 25 jaar ’n belangrike datum op die Suid-Afrikaanse kultuurkalender en het ’n groot finansiële en sosiale impak op die Oudtshoorn-gemeenskap.”
Kango Grotte sluit tot 1 April
Die ikoon van die Klein Karoo, die Kango Grotte, is gesluit vir besoekers. Die Oudtshoorn-raad het Dinsdag by ’n spesiale raadsvergadering besluit om die Grotte vanaf 18 Maart tot 1 April 2020 te sluit.
“Die veiligheid van ons gaste en personeel geniet die hoogste prioriteit en die Kango Grotte het sedert Covid-19 begin versprei het, die riglyne van die nasionale en provinsiale owerhede gevolg,” het die burgemeester, Colan Sylvester, gesê toe hy die voorstel by die vergadering gemaak het.
“Die vinnige verspreiding van die virus het bewys dat geen land of dorp daarteen immuun is nie. Ons het nog nooit tevore met so ’n ernstige situasie te doen gehad nie.”
Sylvester het gesê dat die situasie ten opsigte van Covid-19 dopgehou en geherevauleer sal word soos nodig. Mense wat reeds betaal het vir toere by die Grotte kan die nommer 044 272 7410 tussen 09:00 em 16:00 bel om hul toere te herskeduleer.
Ander munisipale besluite
• Die publiek word voorlopig nie by raadsvergaderings toegelaat nie.
• Alle openbare vergaderings, wyksvergaderings, sektorale en ander GOP- en begrotingsverwante openbare deelnamevergaderings word tot verdere kennisgewing gekanselleer.
• Alle openbare byeenkomste en byeenkomste by munisipale sportterreine of fasiliteite (stadsale, gemeenskapsale, Thusong Sentrum en bib- lioteke moet gekanselleer of uitgestel word tot verdere kennisgewing.
Die bestuurder van die munisipale brand, reddings- en rampbestuur, Adel Adél Supra-Vertue, het die volgende aangekondig:
• ’n Register sal by alle munisipale geboue geplaas word wat rekord hou van almal wat binnekom en uitgaan.
• Handreinigers sal in alle munisipale geboue geplaas sal word.
• Organiseerders van geleenthede vir minder as 100 deelnemers moet by die munisipale rampbestuurskantoor aansoek doen om goedkeuring daarvoor. Die kontakpersoon vir aansoeke is Irene Malgas (044 203 7800/ 01 of malgas@oudtmun.gov.za).
SA Tweekamp sneuwel
Nog ’n slag vir Oudtshoorn is die kansellasie van die jaarlikse SA Tweekampkampioenskap wat op 20 en 21 Maart op Oudtshoorn sou plaasvind en atlete van dwarsoor die land hierheen sou bring.
“Dit is op ’n droewige noot dat die SA Tweekampbestuur moet aankondig dat die 45ste kampioenskap nie vanjaar sal kan plaasvind nie, hoofsaaklik as gevolg van die Covid-19-reëlings soos deur die nasionale regering aangekondig,” lui ’n verklaring wat Sondagaand uitgereik is.
Zoar Oesfees uitgestel
Die Zoar Oesfees, die grootste gebeurtenis op Kannaland se jaarlikse kalender, wat vanjaar die sewende keer tydens die Paasnaweek sou plaasvind is ook uitgestel tot verdere kennisgewing. Dit word gewoonlik deur meer as 3 000 mense wat van veral Kaapstad, die Boland en uit die Suid-Kaap bygewoon. Volgens Clement Heradien, skakelpersoon, is die Oesfees altyd ’n groot ekonomiese inspuiting vir Ladismith en omliggende streke.
Kerkbyeenkomste tydelik afgestel.
Verskeie kerkdienste in die Klein Karoo is voorlopig gekanselleer, soos by die NG Moederkerk, AGS Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) op Oudtshoorn. Die VGK se leraars, dss Andre Boezak en Andrew Oliphant, het ’n skrywe aan lidmate gerig dat dienste opgeskort is om by die beperking te bly van 100 persone by byeenkomste. Doop, begrafnisdienste en troues kan voortgaan, maar word tot die gesinne en naaste familielede beperk. Die leraars het ’n beroep op lidmate gedoen om hulle nie te laat beïnvloed deur bangmaakpraatjies en fopnuus nie. (Deur Liesel le Roux)
2 Comments on "Virus kelder KKNK, Tweekamp, Grotte"
Comments are closed.
Yoh dis nou n jammerte van di uitstel van di Zoar Oesfeec
Net ‘n regstelling: Die AGS Klein-Karoo Gemeente se oggendbyeenkoms is nie gekanselleer nie. Ons maak voorsiening en het streng matreëls in plek om tot ‘n maksimum 100 mense te akkomoddeer en verder moedig ons mense aan om ons live stream via ons Youtube kanaal (AGS Klein Karoo) te volg.