DIE ekonomiese impak van die kansellasie van die KKNK op Oudtshoorn is enorm, sê Jaco Vorster, nuwe voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer.
Navorsing deur proff Jen Snowball en Geoff Antrobus van die Departement Ekonomie aan die Rhodes Universiteit toon dat die totale ekonomiese impak op Oudtshoorn – volgens ’n formule wat spesiaal vir kulturele geleenthede ontwikkel is – is sowat R64 miljoen.
Met die kansellasie van die fees is nie net talle werkgeleenthede tot niet nie, maar kry veral die toerisme- en akkommodasiebedryf seer, terwyl dit ook ’n kwaai slag is vir besighede, skole, kerke en privaat-entrepreneurs.
Dit is inderdaad ’n krisis vir die besigheids-, toerisme- en landbousektor en ook vir die kunste landwyd.
Talle besighede het byvoorbeeld reeds teen hoë koste voorraad vir die fees aangekoop, waarvan hulle nou moet ontslae raak. Kunstenaars – ook plaaslike kunstenaars – het ook baie tyd en geld spandeer om produksies na die fees te bring.
“Oudtshoorniete moet nou saamstaan om mekaar te ondersteun. Ons is almal in dieselfde bootjie. Maak jou voertuig op Oudtshoorn vol brandstof voordat jy uit die dorp ry. Ondersteun plaaslik eerder as om oor die berg te ry.
“Ons moet hande vat. Hoe ons die kansellering van die fees gaan hanteer, sal ons karakter as ’n gemeenskap bepaal.”
Vorster sê Oudtshoorniete moet besef watter groot ekonomiese impak geleenthede soos die feeste en die verskeie sportbeenkomste wat op Oudtshoorn aangebied word, op die dorp en sy ekonomie het.
“Daar is nie meer plek op Oudtshoorn vir enige negatiwiteit oor enige event nie.
“Dit is nou tyd om te fokus op die onmiddellike agenda van herbeplan en herorganiseer. Ons moet volhoubare besluite neem en planne beraam om ons dorp se ekonomie te stabiliseer en werksverlies te bekamp.”
Hy glo voorts dat die situasie rondom die koronavirus baie uitdagings gaan bied aan die formele en informele besigheidsektor .
“Ons het ’n diverse ekonomie met elke besigheid – formeel of informeel – wat ’n rol speel in die ekonomie van die dorp.
“Ons Munisipaliteit se ondersteuning om werksverlies te bekamp gaan van kritieke belang wees. Daar kan nie nou afwesige leiers wees nie; die kalf is in die put!” (Deur Liesel le Roux)