Maak so: Sosiale afstand beperk verspreiding van koronavirus

DAAR is baie wat ons moet aanleer en afleer noudat die koronavirus ons nommer een-vyand geword het. Baie daarvan is nie maklik nie.

Ons moet leer om gereeld ons hande 20 sekondes of langer deeglik te was; om nie meer aan ons gesigte te vat nie; ons kan nie meer handskud en drukkies gee nie; en die moeilikste, ons moet afstand hou van ander.

Die nuwe uitdrukking is “social distancing”.

Sosiale afstand is noodsaaklik, sê gesondheids­praktisyns. Afstand tussen jou en ander mense is die beste manier waarop jy jouself en ander kan beskerm en vertraag ook die verspreiding van die koronavirus.

Vermy in elk geval kontak met mense en groepe waar jy kan.

Probeer twee meter tussen jou en ander mense plaas, byvoorbeeld wanneer julle iewers sit.

Hierdie is volgens kenners veral belangrik as jy ’n kwesbare immuniteitstelsel het, onder­liggende siektes het of as jy ’n roker is.

Bly tuis wanneer jy kan en vermy openbare ruimtes wanneer en waar jy kan.

Kenners sê omdat sosiale afstand die verspreiding van die virus vertraag, verlig dit ook druk op jou land se gesondheidstelsel sodat almal nie gelyk siek word en gelyk mediese hulp en hospitaalbeddens nodig het nie. Dit is dus ’n daad van omgee, vir jouself en ander.

Die belangrikheid van sosiale afstand blyk duidelik uit ’n rekenaar-simulasie wat deel was van ’n artikel in die Washington Post waarin verskillende maniere om die verspreiding van die virus te beheer, met mekaar vergelyk is.

As jy nuuskierig is om dit te sien, gaan kyk gerus by https://www.washingtonpost.com/graphics/2020/world/corona-simulator/
(Deur Liesel le Roux)