Vervolgingsgesag vind nie rede om klagtes teen Paulse te ondersoek nie

Allen Paulse

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gaan nie die klagtes (na bewering 13 dossiere) wat die vorige burgemeester, Colan Sylvester, en ander individue (waarskynlik raadslede) in 2019 en 2020 teen Alan Paulse ingedien het, ondersoek nie. Dit volg nadat die streekhoof van die NGV se spesiale handelsmisdaadeenheid op George bevind het daar is geen redelike vooruitsigte op sukses in enige van die klagtes nie.

Hierdie is ’n terugslag vir diegene wat agterdog en wrewel in die munisipaliteit gesaai en klaarblyklik gepoog het om Paulse, voormalige munisipale bestuurder, te diskrediteer. Oudtshoorn se huidige burgemeester, Chris Macpherson, het in Julie verlede jaar nadat hy as raadslid ingehuldig is, die klagtes teen Paulse as ’n “heksejag”bestempel.

Behalwe vir die klagtes wat by die polisie ingedien is, is die regsfirma Webber Wentzel ook deur die raad opdrag gegee om aantygings teen Paulse te ondersoek en is onderhoude met ’n paar raadslede en amptenare gevoer. Diegene wat in die aantygings geïmpliseer is, kon nie hul kant van die saak stel nie. Die raad is glo meer as R2 miljoen gefaktureer vir die verslag, wat ook ander sake moes ondersoek.

Paulse het intussen by die Oudtshoorn Munisipaliteit bedank nadat hy langer as ’n jaar op verpligte verlof deur die raad geplaas is en nie kon werk nie. Hy is onlangs aangestel as waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste by die George Munisipaliteit.

Vir agtergrond lees gerus:
https://www.diehoorn.com/nuus/da-raadslede-toenemend-verdeeld-onder-sylvester/
https://www.diehoorn.com/algemeen/toksiese-verhoudings/
https://www.diehoorn.com/nuus/tweespalt-in-raad-en-munisipaliteit-bekyk/