SEDERT begin 2001 toe Die Hoorn op Oudtshoorn begin verskyn het, was die dorp se munisipale raad tye lank onder ANC-beheer en tye lank onder DA-beheer waartydens die dorp goed bestuur is.
Die verhouding tussen die ANC en DA sal seker nooit maanskyn en rose wees nie, maar die bestuur van die dorp was goed en die verhouding tussen raadslede van die twee partye was sodanig dat hulle nie die meeste van die tyd mekaar opgekeil het nie.
Na wat verneem word, het dit tussen 1994 en 2000, toe die dorp onder ANC-bestuur was, beter gevaar as tussen 2011 en vandag. Onder meer Sipho Kroma was toe die burgemeester en na wat verneem word, het hy met opposisiepartye saamgewerk as dit in belang van die dorp was.
In 2011 het die ANC, in alliansie met die NPP en Icosa, beheer van die raad oorgeneem. Gordon April, wat van die OD na die ANC oorgeloop het, is toe met die burgemeesterskap beloon. In die jare daarna tot die 2016-verkiesing is Oudtshoorn in die afgrond bestuur. April is mettertyd deur onder andere Ronnie Lottering en die swendelaar Drewan Baird misbruik en gekorrupteer.
Onder April se burgemeesterskap is die Kango Grotte se geld as ’t ware gesteel en wanaangewend, het Eskom se kragrekening agterstallig geraak ens, ens. Dié korrupsie en wan- bestuur van die ANC in samewerking met ander klein partye was verreweg die ergste in die geskiedenis van Oudtshoorn se munisipale raad sedert 1994. Hiermee word nie geïmpliseer dat al Oudtshoorn se ANC-raadslede destyds korrup was nie.
Daardie korrupsie het daartoe gelei dat die DA in 2016 se demokratiese munisipale verkiesing al die wyke behalwe behalwe een gewen het.
Aanvanklik het die DA-bewind onder burgemeesterskap van Colan Sylvester goed gevaar en is die Eskom- en ander skuld uitgewis. Op die oog af het raadslede en amptenare goed saamgewerk.
In 2018 het daar egter iets gebeur en het die verhouding tussen onder andere die burgemeester en die munisipale bestuurder “toksies” begin raak, soos in die Webber Wentzel-verslag dit beskryf.
Sedertdien en toenemend in 2019 en 2020 het dinge uitmekaar begin val en het Oudtshoorn se agente van verdeling begin agterdog saai. Die burgemeester het klagtes teen die munisipale bestuurder ingedien en hul verhouding het toenemend “toksies” geraak.
Pleks daarvan dat die raad en die munisipaliteit daarop gefokus het om die mense van die Groter Oudtshoorn te dien, het tweespalt onder raadslede en ook amptenare toegeneem en het dinge weer uitmekaar begin val.
Raadslede en hul helpers wat sentraal gestaan het in die saai van agterdog en wrewel, sal weet wie hulle is.
Twee direkteure van Oudtshoorn, Felix Lötter (finansies) en Chris Koch (tegniese dienste) bedank in 2019, na wat verneem word weens die “toksiese” atmosfeer by die munisipaliteit, en die munisipale bestuurder is vir lang tye op verlof geplaas.
Intussen het Sylvester as burgemeester bedank, waarskynlik omdat die DA hom intern aan sekere klagtes skuldig bevind het.
Die raad het begin vanjaar opdrag gegee dat die prokureursfirma Webber Wentzel klagtes teen die munisipale bestuurder ondersoek en ’n verslag opstel, en sal dit hopelik so gou moontlik deur die raad hanteer word en die nodige stappe gedoen word indien nodig. Let wel, die verslag stel in dié stadium net een kant van die saak en sal nog getoets moet word.
Soos met alle twiste is daar ver-deeldheid onder inwoners oor wie reg en wie verkeerd is. Die Hoorn het nie genoeg insig en nog inligting nodig om te weet wie reg of verkeerd is. Maar Die Hoorn weet dat daar “toksiese” raadslede en inwoners van alle kleure is wat wrewel en verdagmaking saai.
Al wat Die Hoorn sal wil sien, is dat geregtigheid geskied en dat ons ’n bekwame, eerlike raad en munisipaliteit het wat die inwoners van die dorp bo hul eie belang stel, ongeag hul kleur, geslag of wat ook al.
Hoe gouer ons almal besef ons is op mekaar aangewese om saam te werk, sal dit met ons almal beter gaan. Vir Die Hoorn beteken “beter gaan” dat alle inwoners eerlik lewe, mekaar ag en respekteer, dat armoede uitgewis word en almal ’n goeie opvoeding, onderwys en opleiding ontvang.
Mense se energie moet eerder aangewend word om lewens te verbeter as om te baklei en mekaar sleg te sê.
Mense sal sê Die Hoorn is naiëf, maar sal bly droom vir beter dae. (Sien https://www.diehoorn.com/nuus/samewerking-binne-da-raad-lyk-goed-tot-einde-2017/ vir opsomming van die 1ste deel van die DA se bewind na 2016.) (Deur Schalk le Roux)
Toksiese verhoudings
