DIE DA het in Augustus 2016 ná die landwye munisipale verkiesings die beheer van die bewind in die Oudtshoorn munisipale raad oorgeneem.
Colan Sylvester is tot burgemeester van die dorp verkies. Vir die eerste sowat twee jaar het dit op die oog af goed gegaan met die bestuur van die dorp en is groot skuld weggewerk en het ander goeie goed gebeur.
Deesdae is daar weer baie onrus op die dorp en tweespalt in die raad, veral onder DA-raadslede. Die Hoorn het ons koerante sedert 25 Augustus 2016 bestudeer en ’n opsomming gemaak van berigte oor die DA se prestasie as beherende party asook gekyk na die verhouding tussen Sylvester en die munisipale bestuurder, Allen Paulse.
Die opsomming gaan in twee aflewerings aan-gebied word. Hier volg die tydperk tot einde 2017.
25 Augustus 2016: Die plaaslike verkiesing van Augustus 2016 sal as ’n waterskeidingsoomblik in die politieke geskiedenis van die dorp onthou word, het die nuwe burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, op 23 Augustus 2016 by die eerste raadsvergadering ná die verkiesing gesê. Sy verkiesing tot burgemeester is begroet met ’n gejuig van inwoners wat die vergadering bygewoon het en die swaai van DA-vlae.
Sylvester belowe goeie regering
“As inwoners van Oudtshoorn het julle ons vertrou met julle stem, ’n ongekende meerderheid en ’n mandaat om Oudtshoorn op ’n verantwoor-delike, oop en deursigtige manier te regeer. Dié mandaat plaas ’n groot verantwoordelikheid op ons skouers,” het hy gesê.
Goeie regering, die uitroei van korrupsie en bedrog, en verbeterde dienslewering met die fokus op skoonmaakprojekte is van die doelwitte van ’n 100 dae-program vir die Groter Oudtshoorn, sê Sylvester.
“Daar is wel baie langtermynprojekte wat nie in die 100 dae afgehandel kan word nie, maar ons wil graag kernareas in hierdie tydperk begin aan-spreek. Ons wil die welwillendheid van inwoners koördineer en die 13 wyke oor 13 weke besoek om daar skoon te maak, reg te maak en daardeur die raadslede na die mense toe te neem en so ook inwoners betrokke laat raak by projekte.”
Hy het verwys na ’n 100 dae-veldtog waar die volgende aangespreek gaan word:
• Hou Oudtshoorn Skoon;
• Die beheer en bestuur van die Kango Grotte;
• Bevordering van sport en sporttoerisme; en
• Samewerking met besighede en gemeenskap.
29 September 2016: Sylvester sê by ’n net-werkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer Oudtshoorn kan met samewerking tussen die raad en die mense van die dorp soos die simboliese feniks weer uit die as verrys. Hy sê die nuwe raad wil graag saam met organisasies soos die Besig-heidskamer werk om ’n positiewe verskil te maak om oor die volgende vyf jaar ’n nalatenskap te skep waarop inwoners trots kan wees.
‘Raad ervaar inwoners se welwillendheid’
“Ons het elke organisasie en inwoner van die dorp nodig om te help rigting gee,” het Sylvester gesê. Hy voeg by die raad ervaar baie welwillendheid van inwoners.
Die raad wil ’n dorp skep wat aantreklik is vir beleggers om besighede te kom vestig en so werk te skep, vrugtelose uitgawes verminder, en saam met die amptenary werk. “Amptenare moet nie meer bang wees vir viktimisasie en skorsing nie.”
• 24 November 2016: Sylvester sê hy steun Allen Paulse, wat toe as munisipale bestuurder waargeneem het, met die insameling van agterstallige skuld, ook die skuld van amptenare. “Enige versuim om agterstallige skuld in te vorder sal tot verdere finansiële nood by die munisipaliteit lei, finansiële herstel vertraag en ’n negatiewe uitwerking op dienslewering hê. Almal wat agterstallig is met betaling, insluitend munisipale amptenare en raadslede, is onderhewig aan die munisipaliteit se kredietbeheermaatreëls.”
Paulse het begin waarneem nadat Oudtshoorn onder administrasie geplaas is. Die Wes-Kaapse regering het hom van die Bitou Munisipaliteit, waar hy munsipale bestuurder was, na Oudts-hoorn gesekondeer.
Paulse word munisipale bestuurder
Paulse is ook ’n voormalige burgemeester van die Paarl, adjunk-stadsklerk van George en munisipale bestuurder van die Breedevallei Munisipaliteit.
Hy is op 7 Desember 2016 as munisipale bestuurder van Oudtshoorn aangestel.
7 Desember 2016: Die Oudtshoorn Munisipaliteit het sy ouditmening vir die 2015/2016-boekjaar verbeter. Die Ouditeur-Generaal het die munisipaliteit ’n gekwalifiseerde ouditmening vir die 2015/2016-boekjaar gegee, ’n verbetering van die ongunstige ouditmening van die vorige boekjaar. Die oudit-menings is die naweek bekend gemaak.
Sylvester sê na aanleiding hiervan Oudtshoorn mik na ’n skoon ouditmening vir die 2016/2017-boekjaar. (In dié boekjaar het 23 van die 30 Wes-Kaapse munisipaliteite skoon ouditmening van die Ouditeur-Generaal ontvang.)
Volgens Sylvester is die verbetering op Oudtshoorn toe te skryf aan die ingryping van die intervensiespan wat na Oudtshoorn gestuur is toe die munisipaliteit onder administrasie geplaas is.
“Ons is gelukkig dat die munisipaliteit van die lede van die intervensiespan wat tot die verbetering bygedra het, kon behou,” het hy gesê. Onder diegene wat behou is, is Paulse, en die finansiële hoof, Felix Lotter wat ook deur die Wes-Kaapse regering van die Bitou Munisipaliteit na Oudtshoorn gestuur is. Bitou het drie boekjare drie agtereenvolgende skoon ouditmenings gekry.
OG vol lof vir raad en munisipaleit
Sylvester het gesê die munisipaliteit implementeer tans die finansiële herstelplan noukeurig en streef na ’n finansieel stabiele munisipaliteit wat effektiewe diens lewer.
3 Februarie 2017: Die SA Ouditeur-Generaal (OG), Kimi Makwetu, besoek Oudtshoorn en vergader met die burgemeesterskomitee, die munisipale bestuurder en die direkteure van die muni- sipaleit en is vol lof vir die vordering wat die voorafgaande aantal maande gemaak is.
“Dit is bemoedigend om te sien dat die munisipaliteit ’n plan opgestel het vir gesonde finansiële bestuur en goeie regering,” het hy gesê.
In sy reaksie het Sylvester gesê hy is tevrede met die OG se terugvoer.
“Die nuwe leierskap en bestuur werk nou saam,” het hy gesê.
13 Maart 2017: Sylvester sê die finansiële posisie van die munisipaliteit het na ses maande merkwaardig verbeter, maar die pad na volle herstel is nog lank en steil.
Oudtshoorn se Eskom-skuld daal
“Die munisipaliteit het sy Eskomskuld van R54 miljoen in Augustus verlede jaar verminder tot R16,6 miljoen. Ons het in dié tydperk R37,4 miljoen aan Eskom betaal en daarmee rente van R3,38 miljoen gespaar,” het hy gesê.
Bykomende inkomste van R18,5 miljoen is verseker in die regstellings van bv water- en vullisverwyderingrekeninge.
Die raad het die personeelstruktuur en perso-neel- en oortydbetaling verminder. Daar is tans 850 personeellede, teenoor die 1 100 in Augustus 2016 en sowat R2 miljoen is gespaar met uitbetalings aan tydelike personeel.
Skuldinvordering het tot 96% toegeneem en sowat R900 000 is die afgelope ses maande op drukkoste bespaar.
‘Bevoegde topbestuur aangestel’
Sylvester skryf die verbetering van die munisipaliteit se finansiële situasie toe aan die impli-mentering van die finansiële herstelplan, die oor- sigrol van die raad en die aanstelling van ’n be-voegde topbestuur.
Hy het gesê die raming is dat dit sowat agt jaar sal neem om die dorp weer te kry waar dit was, maar dat die raad hard werk om dit binne vyf jaar te bereik.
28 Maart 2017: Die munisipaliteit beskik nou die eerste keer oor ’n behuisingsplan vir die volgende vyf jaar, sê Johan Fourie, DA-raadslid en voorsitter van die raad se tegniese komitee, by ’n nuuskonferensie oor behuising waar Sylvester teenwoordig is.
Die meeste van die projekte op die behuisings-plan is egter nog onderhewig aan raadsgoedkeuring en ’n openbare deelnameproses, het hy gesê.
By die nuuskonferensie sê Shehaam Sims, wnde bestuurder: menslike nedersettings, die munisipaliteit het groot vordering gemaak sedert Januarie 2016 toe daar geen bou-aktiwiteit was nie omdat projekte gestaak is nadat die diensverskaffer nie betaal en planne nie goedgekeur is nie. Dié probleem is opgelos en die afdeling het 97% van R32 miljoen bestee wat einde Februarie vir bou-projekte beskikbaar gestel is.
25 Mei 2017: Die Hoorn berig die toestand van Oudtshoorn se rioolplaas het baie verbeter sedert Februarie 2015 toe dit in ’n haglike toestand was deurdat besoedelde water vanaf die rioolplaas in die Olifantsrivier gevloei het.
Die besoedelingsvlakke van die water was in daardie stadium volgens ’n ingeligte bron waarskynlik ver meer as tien keer hoër as die wettig voorgeskrewe vlakke.
Rioolplaas opgeknap en werk weer
Tydens ’n besoek aan die rioolplaas einde Mei was die aanleg opgegradeer en ten volle in bedryf, terwyl daar reeds ver daarmee gevorder is om ’n ou aanleg langsaan ook te rehabiliteer.
Chris Koch, toe nog wnde direkteur tegniese dienste, het toe gesê die bykomende aanleg verleen bykomende kapasiteit en verlig druk in ge-valle wanneer groot getalle mense op die dorp is, soos bv met die jaarlikse KKNK.
Koch sê baie geld is bespaar deur die ou aanleg op te knap en nie ’n nuwe een te bou nie.
Hy het ook gesê die water wat deur die rioolplaas gesuiwer word en na die Olifantsrivier vloei, se gehalte hoër is as die voorgeskrewe besproeiingstandaard.
30 Mei 2017: Tydens ’n spesiale raadsvergadering sê Sylvester in sy begrotingstoespraak die begroting is daarop gemik om alle bedrywighede van die munisipaliteit na normaal te laat terugkeer en dat dit opgestel is om sover moontlik uitgawes te sny.
‘Ons betree nuwe era van skoon regering’
“Hierdie is die eerste begroting van die raad onder DA-beheer. Ons betree ’n nuwe era van skoon regering en omsigtige finansiële bestuur van die Oudtshoorn Munisipaliteit,” het hy gesê.
“Die groeiende eise vir dienslewering plaas al groter druk op die hulpbronne van die munisipaliteit omdat befondsing beperk is en die plaaslike ekonomie ook onder geweldige druk verkeer.”
Krediteure het van R11 miljoen in 2011 tot meer as R90 miljoen in November 2015 gestyg. Dit het egter in Mei weer gekrimp tot R40 miljoen, het hy gesê.
1 Junie 2017: Die munisipaliteit ontvang ’n spesiale merietetoekenning ter erkenning van die vordering wat die munisipaliteit met sy jaarlikse ouditverslag gemaak het. Hiervoor ontvang Sylvester ’n toekenning van Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering.
Munisipaliteit geprys ná oudit
Volgens Bredell het die Ouditeur-Generaal aanbeveel dat een munisipaliteit in die Wes-Kaap erkenning moet kry vir die harde werk in die finansiële departement sedert die munisipaliteit in 2015 onder administrasie geplaas is, en dit is Oudtshoorn. Sylvester het “almal wat laatnag ge-werk het om ons hier te kry,” bedank.
11 Julie 2017: Sylvester sê in ’n persverklaring die regrukproses van die munisipaliteit is op koers. ’n Groot duik is gemaak in die skuld van R110 miljoen wat die munisipaliteit geërf het. Die skuld staan tans op R28,5 miljoen. Hy sê die werk wat deur amptenare in dié verband gedoen is, is “merkwaardig”.
Hy het ook op verskeie praktiese stappe gewys wat die vorige paar maande geneem is om tot beter bestuur en stabiliteit binne die munisipaliteit te lei, soos die vestiging van wykskomitees en die aanstelling van senior bestuurders. “Die munisipale topbestuur is tans die eerste keer in meer as vyf jaar volledig,” het hy gesê.
Eskom-skuld daal verder
Die skuld aan Eskom het ook afgekom na R8,3 miljoen met Eskom wat ingestem het om verdere rente op die uitstaande skuld af te skryf.
“Die munisipaliteit ervaar egter steeds ’n kontantvloeiprobleem en talle finansiële uitdagings wat op daagliks hanteer moet word,” het hy gesê.
10 Augustus 2017: Sylvester wens die munisipaliteit se departement menslike nedersettings geluk nadat hulle saam met Stellenbosch se munisipaliteit aangewys is as die die wenner van ’n provinsiale toekenning vir die bouprojek in Rosevalley. Shehaam Sims, wnde bestuurder van die departement, sê sy glo Oudtshoorn het die toekenning gewen omdat dié projek talle eerstes vir Oudtshoorn ingesluit het.
Toekenning vir goeie behuisingsprojek
Hieronder tel die beginsel van verdigting wat dit moontlik maak om meer gesinne te huisves omdat eenhede gemiddeld 180 m² pleks van 200m² is en dubbelverdiepingeenhede en skakelhuise insluit. Ook nuut was die aanlê van elektrisiteit ondergronds.
1 Julie 2017: Oudtshoorn het weer ’n funksionerende ouditkomitee met vyf nuwe lede wat vir drie jaar lank aangestel is.
26 September 2017: Lotter sê by ’n besigheids-kamervergadering die munisipaliteit se Eskomskuld het van R54 miljoen tot net R4,5 miljoen gedaal.
7 Oktober 2017 – Sylvester vertrek as lid van ’n DA-afvaardiging op ’n studiereis na Duitsland, België en Holland.
Lees die volgende uitgawe van Die Hoorn vir die verloop van die DA-bewind en die verhouding tussen die burgemeester en die munisipale bestuur-der wat “toksies” raak. (Deur Schalk le Roux en Liesel le Roux)