Voetganger erg beseer

’N INWONER van Oudtshoorn is verlede Vrydag­oggend ernstig beseer toe ’n ligte vragmotor wat aan ’n bestuurskool behoort, haar in Voortrekkerweg raakgery het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voertuig Ansarina Smit (73) getref toe sy omstreeks 08:05 naby die kruising met Parkweg oor die pad geloop het. Sy het haar na verneem word misgis met die afstand tussen haar en die voertuig.

Smit is met veelvuldige beserings in die MediClinic Klein Karoo opgeneem, waaronder gebreekte ribbes en enkel en ’n gekraakte bekken, maar later oorgeplaas na die MediClinic George, waar sy verskeie operasies moes ondergaan.

Die polisie ondersoek ’n saak van roekelose of nalatige bestuur.