Oudtshoorn se stratetoestand
Ek het gisteraand toevallig in Oudtshoorn-Noord se strate beweeg. Wat ’n skok! Die strate is byna onrybaar.
Die belastingbetalers is ernstig te na gekom en het rede om baie ongelukkig te wees.
Daar is geen verskoning vir die chaotiese situasie nie en die munisipaliteit moet ernstige oorweging hieraan skenk.
Ek hoop dat die nuwe burgermeester hierdie saak hoog op sy of haar agenda sal plaas. Verder vertrou ek dat die uitvoerende vakatures spoedig gevul sal word.
Ons dorp bloei – laat ons saam staan om ons dorp vorentoe te neem
-Lampies Lamprecht, Oudtshoorn
Gratis regshulp vir speaker
Ek lees in Die Hoorn dat die speaker in afwagting is op ’n regsopinie oor die Webber Wentzel-verslag. Sonder om geld te vra, gee ek haar graag die korrekte prosedure oor hoe die verslag hanteer moet word.
Eerstens moet die burgemeester vasstel wat die rede was vir die aanvra van so ’n verslag en of daar begroot was vir so ’n enorme uitgawe.
Die R2,2 miljoen van die prokureur moes sekerlik opgeweeg word teen hoeveel huise gebou en projekte aangepak kon word. Indien niks positiefs uit so ’n verslag sou kom nie, moet die R2,2 miljoen gesien word as vrugtelose uitgawe en die raadslede individueel aanspreeklik gehou word.
Indien die raad sou voortgaan om die verslag te bespreek en af te handel, ongeag verdere finansiële implikasie, sal die korrekte prosedure volgens die stelselwet soos volg wees:
- Enige raadslid of amptenaar wat geïmpliseer word, moet ’n skrywe ontvang met die versoek om binne 14 dae daarop te reageer en in te dien oor waarom hy/sy nie verder ondersoek behoort te word nie.
- Indien die redes soos verstrek van so ’n aard is dat verdere ondersoek nie nodig is nie, word dit as afgehandel beskou.
- Indien die speaker van mening is dat die aantygings ’n ondersoek regverdig, moet die betrokkene met volle vergoeding vir een maand op verpligte verlof geplaas word sodat die ondersoek gedoen en afgehandel kan word.
- ’n Onafhanklike firma word dan aangestel om die ondersoek met aanbevelings te doen.
- Enige raadslid of amptenaar wat van mening is dat hy/sy onregverdig geïmpliseer was, het die reg om ’n eis teen die raad in te stel.
Toe die raad destyds onder admini-strasie geplaas is, het die administrateur ook gevind dat hier heelwat verslae en ondersoeke was. Hy het die standpunt gehuldig dat hy hier is om dienslewe-ring te verseker en die munisipaliteit vorentoe te neem.
Die raad het saam met hom gestem en sodoende verseker dat daar nie verdere tyd, aandag en uitgawes sou wees nie. Die sukses waarmee die dorp toe bestuur was, is geskiedenis.
-Kenner van die plaaslike regering, Oudtshoorn
Waarskuwing vir inwoners van Wesbank
Maandag, so teen 18:15, is ek in Buitekantstraat naby die Wesbank Laerskool beroof.
Inwoners van Wesbank: Wees op die uitkyk vir ’n taxi met swart getinte vensters en gechroomde “bull bars” voor en agter aan die bussie.
’n Jong man spring uit, dreig jou met ’n mes terwyl die bestuurder in die taxi wag.
Wees uiters versigtig, want die een met die mes staan gereed vir aksie.
-AB, Oudtshoorn
Die Hoorn het ’n navraag oor dié voorval aan die Oudtshoorn Polisie gerig, wat bevestig het dat hulle ’n oproep oor so ’n voorval ontvang het, maar geen klag is by hulle daaroor ingedien nie. – Redakteur
Stop?(’n Gedig)
Daar was ’n tyd dat stop
By ’n kruising gehoorsaam is.
Wat het dan nou verander?
Niemand stop meer nie,
Geen voorbeeld te bespeur nie.
Selfs belastingbetaalde voertuie
Stop nie meer nie, ry net oor
Dit is regtig baie goor.
Ek was eerste daar,
Het jy my dan nie gewaar?
Amper my verongeluk
Met jou onbedagsame gedrag.
Is dit maar jou gewoonte
Om die wet ongehoorsaam te wees?
Jy was glad nie so haastig iewers heen
Was net maar so padvarkerig
Doodsveragtend ry jy oor
Sonder die wind van voor
Regtig was jy gelukkig dié keer
Anders was ek verrineweer.
Doen nou maar die regte ding
Laat vir jou motor remme aanbring
Dalk kry jy gestop volgende keer
En hoef nie in ’n hof jou te verweer.
–John Emmerich, Oudtshoorn
Is daar mense weg by munisipaliteit?
Op 16 September 2019 rig ek as prokureur ’n skrywe aan “Die beampte in beheer”, De Rust Munisipaliteit. GEEN ANTWOORD TOT VANDAG NIE.
Op 19 November 2019 rig ek ’n skrywe aan die Munisipale Bestuurder, Oudtshoorn, waarby ek die skrywe van 16 September 2019 aanheg met ’n skrywe gedateer, oor dieselfde aangeleentheid, gerig aan mnr Tofile en mev Simms. GEEN ANTWOORD TOT VANDAG TOE NIE.
Op 12 Desember 2019 rig ek weer ’n skrywe aan die Munisipale Bestuurder waarin ek vra waarom geeneen van die amptenare die ordentlikheid gehad het om ontvangs te erken nie.
Net vir ingeval rig ek die skrywe aan die Munisipale Bestuurder. GEEN
ANTWOORD TOT VANDAG TOE NIE.
Net om seker te maak dat daar nog suurstof is in die munisipale kantore is, stuur ek al my vorige skrywes, wat per hand afgelewer word, aan raadslede Kersop en Fourie. GEEN ANTWOORD NIE.
Wat my bekommer is dat ek tog van die mense na wie ek hierbo verwys het in die dorp gesien het. So, hulle is nog hier.
MAAR – die ergste van alles is, is dat ’n belastingbetaler se probleem nie aandag kry nie.
En intussen het al die amptenare en raadslede stewige verhogings gekry, maar dis nog niks nie. Daar is prestasiebonusse uitgedeel vir bykans R1 000 000 aan senior personeellede. Ja, prestasiebonusse.
Nou, as hulle nie eens briewe kan beantwoord nie, hoe goed kan hulle prestasie-evaluasie gewees het? Ons munisipaliteit het Vader Kersfees geword en is besig om ’n klomp ryk amptenare te kweek. Nou wonder ek net.
Het die hoogbetalendes en raadslede hulle volle salarisse ontvang gedurende die grendeltydperk (en miskien nog UIF ook)? Die hantering van Oudtshoorn se belastingbetalers se geld is skrikwekkend, want miljoene se onnodige uitbetalings en verhogings skrik hulle nie eens af nie.
En dit terwyl derduisende honger ly. Skandalig. As u twyfel aan die feite – vra aan die besluit, nommer: 63.06/06/20. Alles staan daarin. -AJ Wagener, Oudtshoorn
