MUNISIPALE geboue van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit is sedert verlede Vrydag (3 Julie 2020) by twee geleenthede tydelik gesluit vir diepreiniging as gevolg van Covid-19.
Die eerste keer is die munisipale hoofgebou in Voortrekkerweg, Oudtshoorn Vrydag deur die Brand, Redding- en Rampbestuurspan gesluit vir diepreiniging nadat ’n raadslid positief getoets het. Die gebou het Maandag weer geopen.
Alle betaalkantore gesluit
Dinsdag egter is die munisipale hoofgebou asook al die munisipale betaalkantore, ook in Bridgton, Bongolethu, Dysselsdorp en De Rust, gesluit tot Donderdag. Dit open eers vandag (Vrydag 10 Julie 2020).
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, dui die beskikbare inligting daarop dat al die betaalkantore in die munisipaliteit blootgestel is aan Covid-19.
Mangqwengqwe het inwoners en besighede versoek om hul munisipale rekeninge by Shoprite, Checkers, Pick n Pay en Spar te betaal.
“Kassiere by dié supermarkte kan klante inlig oor wat die bedrag is wat hulle vandeesmaand moet betaal.”
Alternatiewelik kan EFT-oorplasings gedoen word na die volgende rekening: Rekeninghouer: Oudtshoorn Municipality; Standard Bank; rekeningnommer: 082 808 724; bankkode: 050514; verwysingsnommer: Jou munisipale rekening- nommer.
Rig navrae oor rekeninge aan:
accountenquries@oudtmun.gov.za
Verkeersdepartement gesluit
Die Oudtshoorn-verkeersdepartement is ook Dinsdag tydelik gesluit sodat die kantore ontsmet kan word.
Die verkeerskantore open weer Donderdag 16 Julie.
Besighede en kliniek-apteek ook toe
Verskeie besighede moes die afgelope week ook hul deure sluit vir ontsmetting as gevolg van Covid-19. Onder hulle is Finbond in Adderleystraat wat Vrydag gesluit het en op 18 Julie sal oopmaak.
Maandag het ten minste twee besighede op Oudtshoorn se deure gesluit. Luidens ’n kennisgewing op hul deure is Checkers gesluit vir sanitasie-protokol en Standard Bank vir ’n noodsituasie. Beide was Woensdag weer oop,
Donderdag was Pick n Pay gesluit.
Die Bridgton Kliniek se apteek was Dinsdag tydelik gesluit. Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Ge- sondheid, was die apteek toe vir ontsmetting as standaardprosedure nadat ’n personeellid positief getoets het vir Covid-19.
“Die apteek is weer oop en dienslewering gaan voort soos normaal. Ons bedank die publiek vir hulle geduld in hierdie verband en wens die personeellid ’n spoedige herstel toe,” sê Ferreira. (Deur Liesel le Roux)