‘Verpletter ná mesdood van jongmense’ – burgemeester

Nathan Arries (30).

“ONS is verpletter deur die gebeure wat die afgelope paar naweke gelei het tot die dood en waarskynlike moorde op ons jongmense in die Groter Oudtshoorn.

‘Sover vasgestel kan word, wil dit voorkom dat tik of ander dwelms ’n groot rol in hier­die wrede misdade gespeel het.”

So het die burgemeester van die Groter Oudts­hoorn, Chris Macpherson, gereageer op die dood van ’n vyfde jongman binne ’n maand, Nathan (Ougat) Arries (30).

Arries se liggaam is Saterdag met verskeie steekwonde in die pad in Smartietown gevind.

Macpherson sê die dorp se dwelmaksiekomitee is weer geaktiveer en sal nou saamwerk met die SAPD en Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om “die bose monster wat jong lewens verwoes”, te bekamp.

“Ons beoog ’n nuwe veldtog om bewusmaking te skep en sal skole en ander belanghebbendes nader met ons beoogde aksieplan. Ons het ook ’n proses begin om die verspreiding van dwelms stop te sit deur toe te slaan op plekke waar dit versprei word – soos spazawinkels en tikhuise op die dorp asook gereelde gesamentlike optrede deur munisipale wetstoepassers en die SAPD.”

Macpherson het ’n beroep op jongmense en hul ouers gedoen om seker te maak dat jongmense die aandkloktye nakom en ekstra waaksaam is tydens die Paasnaweek. (Deur Liesel le Roux)

• Lees meer oor die aanval op Arries en vorige slagoffers op https://www.diehoorn.com/nuus/liggaam-met-steekwonde-in-pad-gevind/

Be the first to comment on "‘Verpletter ná mesdood van jongmense’ – burgemeester"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*