‘Vernoem straat na David Piedt’

Wyle dr David Piedt aan die gesels tydens ’n onderhoud met Die Hoorn. Foto: Liesel le Roux

Dr Franklin Sonn tydens die David Piedt-gedenklesing by die KKNK. Foto: Garnett Wicomb

HET die tyd nie aangebreek het dat ’n straat in die middedorp van Oudtshoorn na David Piedt-rylaan verander word nie?

Dit was die vraag van dr Franklin Sonn, ’n beskermheer en voormalige direksielid van die KKNK, verlede week by die eerste David Piedt-gedenklesing wat tydens die fees plaasgevind het.

Sonn, wat as gespreksleier opgetree het, het gesê dit is vir hom pynlik en nie reg nie dat feitlik elke straat en elke gebou in ’n bevryde Suid-Afrika steeds die ou name van mense dra nie.

Sonn het Piedt in sy toespraak beskryf as ’n man wat vir reg en geregtigheid gestaan het en sy lewe berus het op die beginsel van respek; ’n man wat hy sal onthou vir sy vreesloosheid om teen ongeregtigheid te veg.

Piedt, ’n voormalige voorsitter van die KKNK- direksie, is in Julie 2020 aan Covid-19 oorlede.

“David se uitgangspunt was nie wat jy uit die lewe kan kry nie, maar wat jy kan gee.”

Hy onthou dat Piedt in die apartheidsjare ongewild was onder witmense op Oudtshoorn, en voortdurend moes vlug vir die veiligheidspolisie. Hy is dikwels op ’n Satedag agter in ’n polisievangwa rondgery.

Piedt was volgens Sonn voor sy dood ’n diep bedroefde mens oor die verwringing van die land en het met hom gepraat oor die grypsugtigheid en diewery wat die armes verder verarm het.

“David het feitlik soos ’n Madiba penregop geloop en gestaan en was ’n kampvegter vir Afrikaans en die KKNK.

Volgens Edward Jackson, inwoner van Oudtshoorn en groot vriend van Piedt, het hulle baie gepraat oor die rol wat die bruinmense in die bevrydingstryd gespeel het en hoe hulle nou uitgesluit word. “Die grootste protesoptog in daardie jare het op Oudtshoorn plaasgevind, maar vandag gaan alles in Suid-Afrika oor swart en wit.”

Volgens Jackson is 78% van Oudtshoorn se inwoners bruinmense, maar suig hulle aan die agterspeen ten opsigte van die dorp se ekonomie. Hy het gesê dat die KKNK kan help met gesprekke in dié verband.

Een van die stigterslede van die KKNK, Rosie Schoeman, het gesê sy het die grootste respek vir Piedt gehad. Sy het gesê sy beoog om ’n brief aan die munisipaliteit te skryf oor die verandering van straatname op Oudtshoorn.

Volgens die artistieke direkteur van die KKNK, Hugo Theart, sal die David Piedt-gedenklesing voortaan jaarliks tydens die KKNK aangebied word. (Deur Garnett Wicomb)

1 Comment on "‘Vernoem straat na David Piedt’"

  1. Sam Rudolph | 12/04/2022 at 17:22 |

    By Time. Thank you Mr Sonn for reminding All of us what Mr David Piedt has done for Afrikaans and the “Coloured”Community of Oudtshoorn. Gone But Never Forgotten. 👏💯👏🌹👌👌❤️🙏🙏🙏

Comments are closed.