Verlinde verower 3de plek in Egipte

Die wenners van die Masters 40+ kategorie. In die 1ste plek was Louise Cederblad van Swede, 2de plek Tammy Taylor van Suid-Afrika en in die 3de plek Melanie Verlinde, van Oudtshoorn, Suid-Afrika. Foto verskaf

Oudtshoorn se bekende CrossFit afrigter en uitblinker, en eienaar van Black Mountain CrossFit, het triomferend uit Egipte na Oudtshoorn teruggekeer, waar sy tydens die internasionale CrossFit kompetisie ELFIT die derde plek ingepalm het.

Die kompetisie het op Donderdag 16 November begin en Saterdag 18 November klaargemaak.
Hierdie uitdagende kompetisie het 600 deelnemers gelok vanoor die hele wêreld in verskeie kategorieë, wat insluit mans en vroue, van verskillende ouderdomme en selfs spanne.

Verlinde was 3de in die 40+ Masters-kategorie waar sy teen tien ander vroue meegeding het.

Die Hoorn het met haar gesels oor hierdie besonderse prestasie en ook haar ondervinding van Egipte.

Die eerste vraag is natuurlik oor die weer, aangesien Egipte in die woestyn is. “Dit is nou hulle winter, so dis tans koeler as in Oudtshoorn,” Die weer het daagliks gewissel tussen 20 en 30 grade. Alhoewel dit koeler is as Oudtshoorn, was die sessie buite steeds uitdagend weens die hitte. “Dit het beslis gehelp dat ek gewoond is aan Oudtshoorn se warmer weer,”

Die kompetisie het by Cairo New Capital se Sport City plaasgevind. Verlinde vertel dat die fasiliteite eersteklas is, en die areas wat hulle gebruik het, het bestaan uit ’n Astro sokkerveld, sand-gedeeltes vir die kortafstandnaellope, ’n paadjie soortgelyk aan ’n tartanbaanoppervlakte vir die 5,4 km langafstand en ’n binnehuise Olimpiese grootte swembad.

Sy het oor 3 dae, agt verskillende oefensessies (toetse) gehad. Na elke oefensessie is punte toegeken wat dan die deelnemers se posisies bepaal. Daar was ’n groot verskeidenheid bewegings van kort vinnige naellope, oefeninge met gewigte, gimnastiek- en liggaamsgewig bewegings, swaar gewigte dra en stoot, tot langer afstande (swem en hardloop) wat jou uithouvermoë toets, om maar ‘n paar te noem.

Een van die toetse was ook ‘n gewigoptel toets waar elkeen sy maksimumgewig moes optel. Daar was ’n uitstekende balans tussen die verskillende bewegings van elke toets, en nie een sessie was dieselfde nie.

Die kompetisie tussen die eerste drie vroue was so sterk, dat dit moeilik was om te weet wie gaan in watter posisie eindig tot op die laaste dag, maar die spesifieke oefeninge wat sy moes doen om te kwalifiseer het haar beslis gehelp voorberei.

Vir haar was die tweede dag se swem die uitdagendste, omdat sy eers onlangs vir swemlesse gegaan het om dié tegniek te verfyn. “Die swembad is 50 m lank en ons moes 300 m in totaal swem,” daarna trek deelnemers hulle tekkies aan en pak dan die 5,4 km langafstand hardloop aan. Sy het die persone wat voor haar uit die swembad was, ingehardloop en die spesifieke oefentoets gewen. Dit was ook die een waaroor sy die meeste bekommerd was, maar ook een van die bestes.

Van tou opgooi was daar geen sprake nie, omdat gesondheid en oefen haar passie is. “Ek dink nie eers aan tou opgooi nie, CrossFit leer jou om aan te hou tot jy klaar is, maak nie saak hoe moeg of hoe moeilik dit is nie. Dit help ook baie as jy geniet wat jy doen,”

Sal jy dit weer doen? “BESLIS”, sê Verlinde sonder om te skroom. “Dis ’n uitstekende leerskool en baie goeie ervaring,” Egipte se mense is ook baie vriendelik, behulpsaam en probeer orals help.

“Hulle het ons soos “superstars” laat voel,”

Sy en haar man het darem ook tyd afgeknyp voor en na die kompetisie om die besienswaardighede van Egipte te besoek en beleef soos die Sfinks, Piramides en verskeie museums. Vir haar was die kultuur, geskiedenis en simboliek van veral die hiërogliewe ’n belewenis en baie interessant, veral omdat dit nie sommer ’n land is wat hulle sou besoek as dit nie vir ELFIT was nie.

“Dit was ‘n ongelooflik verrykende ervaring. Ek voel so verskriklik dankbaar dat ek in staat was om daar te kon deelneem. Mens LEEF werklik eers as jy uit jou “comfort zone” klim!” sluit sy af. (Deur Angelique Erasmus)