150 diere oor drie dae die mikpunt

Bo: Inwoners en vrywilligers hou ’n ogie oor van die diere wat reeds gesteriliseer is. Foto verskaf Onder: Hierdie oulike hond wag geduldig sy beurt af. Foto verskaf

The Cat Hotel, Oudtshoorn, in samewerking met dr Annelise Roux en haar span is tans hard aan die werk aan ’n massasterilisasies-inisiatief.

Dit vind tans plaas in De Rust, by Blomnek se klubhuis.

“Ons mikpunt is om 150 diere oor 3 dae te steriliseer, maar op ons eerste dag (Dinsdag) het ons reeds 47 honde en 9 katte reggemaak,” vertel Lee-Ann van Sittert van The Cat Hotel.

Sy en Sue Harris werk reeds vir sowat 13 jaar in die De Rust area saam en is al bekend in die gemeenskap vir hulle liefdadigheidswerk in die gemeenskap.

Elke dier word ook teen hondsdolheid ingespuit, nadat hulle behandel is.

Van Sittert vertel verder dat dit fantasties is om te sien hoe die gemeenskappe van Blomnek, Oudemuragie en mense vanaf plase bymekaar kom en hulle diere bring vir behandeling.

Sommige inwoners stap ver afstande met hulle diere, om gebruik te maak van hierdie gratis diens, wat deur middel van skenkings moontlik gemaak word.

Om betrokke te raak of om enige skenkings te maak vir die sterilisasiefonds, kan van Sittert gekontak word by 083 334 0172. (Deur Angelique Erasmus)