DIE verhoor in die transito-roofsaak teen vier mans van George wat daarvan aangekla word dat hulle ’n veiligheidswag by die Bridgton vulstasie op Oudtshoorn van sy vuurwapen en R86 000 kontant beroof het, het uiteindelik Maandag in die Oudtshoorn Streekhof begin en is tot vandag (Donderdag) op die hofrol.
Die vier verdagtes, Simphiwe Matwa, Masixole Dolomba, Lwandiso Lento en Sakhele Nkabi – ’n weermagkaptein – staan tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van twee vuurwapens en ammunisie en pleit onskuldig.
Matwa, Dolomba en Lento is nog dieselfde dag in die Outenikwapas in hegtenis geneem terwl Nkabi ’n paar dae later aangekeer is. Borgtog is aan al vier geweier.
Die veiligheidswag, Lonwabo Maqwasa, was Maandag die eerste staatsgetuie.
Hy het getuig hoedat hy op die oggend van 19 Julie 2022 by die Bridgton BP-vulstasie agter die voertuig van Fidelity Cash Solutions deur iemand met ’n vuurwapen gedreig is. ’n Tweede man het van ’n ander rigting gekom en hom aan die handvatsel van die voertuig geboei. Hulle het die sak met geld, sy vuurwapen en ’n “scanner” gevat, in ’n Toyota Tazz gespring en weggejaag.
Sy kollega, Wilfred Roberts, het in die voertuig agter die stuurwiel gesit en self getuig dat hy niks gesien het nie omdat hy die agterdeur van die voertuig van binne moes oopmaak.
’n Getuie, wie se naam om veiligheidsredes nie genoem word nie en die motor met die rowers agtervolg het, het getuig dat hy gesien het hoedat die twee mans wat die veiligheidswag beroof het, in die wit Tazz wegjaag.
Hulle het naby Timbercity die Tazz se CBL-re-gistrasnommers afgehaal en dit met ander vervang. Hulle het toe met die sak geld in ’n wagtende blou Nissan Sentra oorgeklim en in die rigting van George gery, het die getuie vertel.
Die Tazz het in die rigting van Oudtshoorn se middedorp gery.
Volgens hom kon hy, net soos die sekuriteitswag, nie die vermeende rowers se gesigte sien nie omdat hul gesigte bedek was.
Hy is daarna terug na die motorhawe waar hy ’n verklaring aan die polisie gemaak het.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is vir vier dae op die hofol. Brandon Smith is die aanklaer.
Adv Pieter van Wyk verskyn namens Matwa, Eugene Roos van die regshulpraad namens Dolomba en Lento, en adv Charlene Williams namens Nkabi. (Deur Garnett Wicomb)