HY gaan alles probeer om vanjaar met sy 30ste deelname aan die moordende Comrades Marathon ’n silwer medalje huistoe te bring.
So sê Oudtshoorn se bekende langafstand atleet, die 63-jarige Jason Jafta, ’n gereelde gesig op Oudtshoorn se paaie wat hard aan die oefen is vir vanjaar se “af” Comrdes Marathon van Pietermaritzburg na Durban in KwaZulu-Natal.
Die “op”-roete is andersom.
Jafta sê dat hy al by twee geleenthede die afsny-punt vir die silwer medalje met sekondes gemis het maar dat hy nog nie tou opgegooi het nie.
Hy neem as Grootmeester deel en is goed voorbereid vir die uitdaging. Hy draf elke naweek tussen 40 en 50 km, op ’n Saterdag of Sondag; 25 tot 40 km elke Woensdag en die ander dae van die week so 12 of 20 km.
Jafta, wat in Februarie vanjaar sy 38ste Kango Marathon voltooi het, het al aan al wat ’n wedloop in die Wes- en Suid-Kaap deelgeneem.
Hy spog met medaljes “vir Afrika”!
Gevra hoeveel medaljes dit is het sy vrou, Maria, geantwoord dat hulle by 300 ophou tel het. (Deur Garnett Wicomb)
Jason mik vir silwer by 2023 Comrades Marathon
Jason Jafta tuis by van sy medaljes. Foto: Garnett Wicomb