Man wat kind in lug rondswaai in streekhof

DIE saak teen die 31-jarige Ashwin Pietersen van Bridgton op Oudtshoorn, wat van aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla word nadat hy glo ’n eenjarige kind in die lug rondgeswaai het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof vir pleit en verhoor tot môre, Vrydag 26 Mei uitgestel.

Pietersen is deur die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings in hegtenis geneem nadat ’n video van die beweerde voorval op sosiale media versprei is.

Op die video wat glo deur ’n tante van die kind geneem is, word die eenjarige seuntjie rondgepluk en die man dreig glo om hom op die teerpad neer te gooi.

Mense probeer die kind afvat, maar hy word weggeruk en aan die arm rondgeswaai.

Die saak is op versoek van Pietersen se regshulpprokureur, Brian Carelse, deur streeklanddros Daniel Boks vir pleit en verhoor uitgestel. Pietersen bly in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)