Saak teen “dwelmsindikaat” na hooggeregshof verwys

DIE saak teen sestien verdagtes, vermoedelik ’n dwelmsindikaat, is Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n hooggeregshofdatum tot 26 Julie uitgestel.

Dit nadat die staatsaanklaer, Zelda Jass, die hof meegedeel het dat die saak nie na die streekhof oorgeplaas sal word nie.

Die sestien verdagtes staan tereg op altesaam 54 aanklagtes van handel in dwelms, besit van dwelms en geldwassery.

Borgtog van tussen R1 000 en R20 000 is vroeër aan agt van die verdagtes toegestaan, terwyl borgtog aan vier, Manfred John, Wilbur Paulsen, Arlington Hurling en Shaun Hendricks geweier is.

Landdros Stephanie Strydom het borgtog van R20 000 elk aan Reginald Fielies en Melvin Jacobs toegestaan, R5 000 aan Marshall Mclune, en R1 000 elk aan Vladimar Gordon, August Wild, Emile Jonas, Vivian Arries en Vincent Goba.

Ann Erasmus, Chantelle Manewil en Madalyna Adams is op waarskuwing vrygelaat.
Borgtog is vroeër in ’n ander hof deur landdros Vaughn Shone aan Louis Emezo geweier. (Deur Garnett Wicomb)