Verhoor begin in rugbyspeler-moordsaak

Bo: Boutros May. Foto Facebook Onder: Felicia Afrika. Foto Facebook

Die verhoor van die vrou wat van moord op die rugbyspeler, Boutros “Boelie” May (31), aangekla word, het Maandag in die streekhof begin en is Donderdag 4 September voortgesit met die kruisondervraging van die tweede staatsgetuie.

Die 26-jarige Felicia Afrika het met die aanvang van die verhoor in haar pleitverduideliking gesê dat sy die betrokke aand, 13 Februarie 2023, uit selfverdediging opgetree het en pleit onskuldig op die klagte van moord.

Volgens haar het die oorledene haar nader getrek en twee klappe gegee waarna sy hom een keer met ’n mes in die bors gesteek het.

Die verhoor het Maandag begin met die getuienis van twee staatsgetuies wat die betrokke aand saam met die oorledene by die Sky Lounge, ’n kuierplek in St Johnstraat, was.

Die eerste getuie, Tinsley Avontuur, het getuig dat hulle na buite is toe iemand hulle meegedeel het dat motors se bande stukkend gesteek word.

’n Motorwag het hulle ingelig waarheen die verdagtes gestap het.

Hulle het die groep by ’n gebou in Adderleystraat met die naam Pasella gekry en hulle gekonfronteer.
Die kêrel van die beskuldigde het ’n mes uitgepluk maar dit het geval en is deur Darren Coe-recius opgetel.

Volgens Stuurman het hy toe die mes agter die oorledene se rug aan hom oorhandig.
Afrika het na die oorledene gekom, en wou die mes terughê. Sy het die oorledene teen die bors gestoot waarna hy haar ook gestoot het.

Sy het oomblikke later ’n mes of iets skerp uitgehaal waarmee sy May een keer in die bors ge-steek het.
“Toe spat die bloed,” het Stuurman getuig.

Afrika se regsverteenwoordiger, Margareta Aucamp, wou van Stuurman weet of die oorledene die beskuldigde aangerand het waarop hy nee geantwoord het.

Aucamp het dit egter aan hom gestel dat dit aanranding is om iemand te stoot en dat die oorledene die aggressor was gewapen met ’n mes agter sy rug. (GARNETT WICOMB)