
Die gesprekke met skrywers wat die afgelope naweek tydens die Prins Albert Leesfees plaasgevind het, was goed ondersteun.
Talle besoekers is van mening dat vanjaar se program selfs beter was as verlede jaar. Kaartjie- en boekverkope bevestig dit.
Die fees het begin met ’n huldiging aan Annelie Botes waartydens Hannes Visser met Annelie se man, Chris Botes, gesels het. Die gesprek was by tye emosioneel, maar opreg en openhartig terwyl Chris, (Die Gryse), oor sy lewe met Annelie en haar skryfwerk uitgebrei het.
Dit was ook die heel eerste bekendstelling van Laastegoed, ’n bundel van Annelie se rubrieke wat posthuum gepubliseer is.
Die laaste van die agt gesprekke waarvoor kaartjies bekom moes word, was met Mike Bolhuis en Johan Coetzee van Naledi oor die boek Valskermbataljon-verhale. Die gespreksleier was Hannes Visser, wat ook die redakteur van die boek was. In die gehoor was ook vier oud-valskermsoldate.
Bolhuis en Coetzee is albei oud-valskermsoldate. Die gesprek het heelwat langer as die toegelate tydgleuf geduur en was beslis een van die feeshoogtepunte. Die ander gesprekke wat plaasgevind het was met Sidney Gilroy, wie se jongste boek, Roulette, ook sy eerste bekendstelling by ’n fees in Pins Albert gevier het. Nog ’n eerste was Erla Diedericks se boek, Bonsaimeisies.
Die boek is Saterdag op die fees bekendgestel nog voordat dit in boekwinkels verskyn het en ’n feesganger, Manda Visser, wat die eerste boek gekoop het en dadelik begin lees het, het ook die eer te beurt geval om die eerste leser in die land te wees wat die boek kon lees.
Ander skrywers wat tot die groot sukses van die fees bygedra het was, Andrew Wilson (The Forth Boy), Karina Szczureck van Karavan Press, Martin Steyn (Donkerwater), Alex Hamilton (Arting and the subsequent shenanigans of a serial collector), Tom Dreyer (Nou in infrarooi, wat een van die drie digbundels op die kortlys van die Ingrid Jonker-prys vir 2025 was), De Wet Bischoff (Die kuber-moorde), Cobus Buys alias Cobie Lötter (As stilte praat en Weersiens verby Emmaus), Prof John Parkington (Rock Art of the Karoo) en Dr André Hattingh (Cooking with Doc).
Soos verlede jaar is die leesfees weer in die pragtige art deco Showroom-teater aan-gebied wat aan die Prince Albert Community Trust (PACT) behoort. Saam met die leesfees was daar ook ’n jeugprogram wat deur Slimlappies, ’n organisasie wat lees-vaardigheid onder kin-ders bevorder, aange- bied is sowel as sessies vir ouers en onderwysers oor vroeë kinderontwikkeling.
Die bekende jeugskrywer, Christien Nesser, en plaaslike skrywers Maruanda Wynn en Thana de Clerq was deel van hierdie program. (HANNES VISSER)

Andrew Wilson.

Tom Dreyer (links) by Kritikomkoppie.