Waarskuwing aan inwoners wat naby kanaal woon

’n Gedeelte van die kanaal wat suid van Bongolethu verbyvloei. Foto: Hannes Visser

Die SKWGV (Stompdrift Kammanassie Watergebruikersvereniging) het op 31 Augustus begin met loslating van leiwater uit die Stompdrift- en Kammanassie-dam.

Dit beteken dat die kanaalstelsel wat van die damme af tot net voor Calitzdorp strek, vir die volgende vyf weke vol water sal wees.

Die kanaal vloei hoofsaaklik deur landelike gebied maar ook naby dele van Dysselsdorp en Bongolethu waar die gevaar bestaan van kinders en diere wat in die kanaal kan beland.

Inwoners in die omgewing van die kanaal word soos met elke loslating, dringend gewaarsku om kinders en diere van die kanaal weg te hou.

Die kanaal vervoer 414 000 kubieke meter water per dag met ’n totaal van 14 490 000 kubieke meter oor die tydperk.

Die damvlak van die Stompdriftdam is tans 78,1% en die Kammanassiedam se vlak lê op 77,8%. (HANNES VISSER)