Veghond laat inwoner groot skrik

Regs: Marie Olivier (78) bekende inwoner en oud-onderwyser van Oudtshoorn wat onlangs deur ’n veghond in Wesbank aangeval is. Foto verskaf

’N BEKENDE Oudtshoorniet en oud-onderwyser, Marie Olivier (78), het onlangs ’n angswekkende ondervinding gehad terwyl sy oudergewoonte ’n advertensieblad by huise in Wesbank, Oudts­hoorn afgelewer het.

“Ek het soos altyd die boekie in die helfte gevou om dit in ’n huis se posbus te sit toe die hekkie ewe skielik oopgaan,” vertel sy.

Olivier het die hekkie toegedruk toe ’n veghond op haar afgestorm en haar aan die regterhand gegryp het. “Die hond het my middel- en ringvinger beetgekry, en vasgehou,” sê sy.

Volgens Olivier was daar oral bloed en het sy om hulp geskree.

“Die straat is gewoonlik vol mense, maar daar­die oggend was daar niemand toe ek skree nie.”

Na ’n ruk het een van die inwoners van die huis uitgekom en die hond het haar hand gelos. Olivier is na ’n dokter geneem waar daar wonde skoongemaak en met steke geheg is.

Olivier lewer al vir 20 jaar dié advertensieblad af en sê sy het nog nooit so iets beleef nie.

“Ek is ’n bekende gesig in die omgewing en geniet dit om elke Donderdag in die buurt te loop en met ou vriende en kennis te gesels.”

Sy vertel dat sy net dankbaar is dat die hekkie nie oopgegaan het nie, anders kon die uitkoms van die voorval baie anders gewees het.

Olivier bly sedert sy vier jaar oud is op Oudts­hoorn en was 40 jaar in die onderwys.

Volgens Lee-Ann van Sittert wat met verskeie diere werk en die eienaar is van die liefdadigheids­organisasie The Cat Hotel, moet ’n mens sover moontlik probeer om nie te skree en te slaan wanneer ’n hond op jou afstorm nie.

“Dit sal die hond net meer aggressief maak.”

“Vermy ook oogkontak met die hond, en pro­beer om eerder iets soos ’n baadjie of handsak voor te hou sodat die hond dit kan gryp en jy dan stadig en so kalm as moontlik kan wegloop.

Van Sittert sê iemand wat deur ’n hond gebyt is, moet dadelik vir mediese behandeling geneem word sodat die wond skoongemaak kan word en ’n klem-in-die-kaak-inspuiting toegedien kan word. (Deur Angelique Erasmus)