DIE Oudtshoorn-raadslid wat van seksuele aanranding aangekla word, was Dinsdag briesend toe sy saak van die Streekhof terugverwys is na die Distrikshof en toe weer uitgestel is vir ’n ander streekhofdatum.
Die 40-jarige verdagte wat nog nie gepleit het nie, het aan landdros Stephanie Strydom gesê dat hy glad nie gelukkig is met die vertraging van sy saak nie en versoek dat dit van die hofrol verwyder moet word.
Volgens hom word hy deur die hof misbruik.
Hy het vurig uitgevaar teen die manier waarop sy saak deur die Oudtshoorn-howe hanteer word en byna nie die landdros geleentheid gegee om te praat nie.
Volgens hom het daar sedert 13 Desember verlede jaar, drie maande gelede, niks gebeur nie en is dit absoluut onaanvaarbaar.
“As die staat ’n saak teen my het, vervolg my,” het hy met swaaiende arms aan die landdros gesê.
Die landdros het aan die beskuldigde gesê dat sy nie met hom gaan argumenteer nie en die saak tot 28 Maart uitgestel vir verskyning in die Streekhof.
Sy het die verdagte ook versoek om stil te bly wanneer sy praat omdat sy dieselfde doen wanneer hy praat.
Die verdagte het die hof meegedeel dat hy die mandaat van sy rgesverteenwoordiger beëindig en voortaan sy eie saak sal behartig.
• Die betrokke raadslid het met sy aansoek om borgtog verlede jaar aan dieselfde landdros gesê dat hy die dorp se tweede burger is en dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hom toegestaan moet word. Hierop het die landdros geantwoord dat status nie ter sprake is nie en almal gelyk is voor die hof. (Deur Garnett Wicomb)