Ek het ousie Roeslyn misgeloop vir ons vroeë oggend geselsie. Kate Morris het my gebel om te sê hulle moet vanmôre vroeg by die munisipaliteit wees, glo vir die bespreking by die wyksvergadering van die vorige aand.
Ek het toe maar op my “eentjie”, gesit en dink waarvoor ek vanmôre met haar wou gesels. Ek wou met haar praat oor die gedwonge verskuiwings. Ousie was mos nog al die jare ’n betroubare klankbord.
Ondanks hierdie wrede aksie, van die uitsettings uit die ruimte, waaraan ons gewoond geraak het, almal van ons verontrief het, het dit my nog altyd gepla.
Ek het gedink aan Nuwerus op Prins Albert. My oupa Gert Balie was ’n steenmaker. Hy het vir ons ’n huis uit die grond tot staangemaak in 1940. Die huis se naam was “Ebenhaeser”. Voor die ge-dwonge uitsettings is my oupa met ’n fiets op Boland toe om te gaan werk soek. Hy was vir vier weke op die pad. Hy het sy familie kom haal, die huis waarin ek en my neef Boetie Balie in 1942 gebore is, net so gelos. Ek weet nie eens of oupa die huis verkoop het nie.
Ons het op Oudtshoorn gewoon in Oxfordstraat 40. Elke keer het ons Prins Albert toe gery en gekyk na die huis.
Die donkie-wa van my oom, Piet Balie het saam met die huis, verweer.
Ek weet nie of oupa die huis verkoop het nie (dit bly vir my ’n onopgeloste raaisel). Wat ek wel weet is dat hy op De Doorns ’n nuwe huis staangemaak het vir homself en sy vrou, met ’n lang stoep en kamers (eintlik woonvertrekke), vir sy seuns en dogters en vir ouma se broer, boetie Piet Willemse en sy vrou.
Ons familie het tot op vandag toe nooit aansoek gedoen vir grondeise op Prins Albert en op De Doorns nie. Trots, familietrots het ons daarvan weerhou.
Die huis op De Doorns is nie meer nie. Tydens die begrafnis van my neef se dogter, Judy Gelant, is ons na die woongebied om te kyk of die murasie nog staan. Die hele woongebied is ingeneem deur plakkers. Vreemdelinge wat nie verwant is aan ons nie het die hele gebied wat destyds aan ons familie behoort het, ingeneem. In Engels – “encroachment”. Inbreuk, oorskryding, aanmatig – is die beskrywende woorde in Afrikaans.
Ek het buite op die stoep gaan staan, om te sien of ousie Roeslyn en Kate Morris nog nie aankom nie. En dit is toe dat my vriend, André Boezak voor die tuinhekkie stilhou met sy motorfiets.
“En as jy so bedruk lyk, broer?” het hy gevra. Ek het hom binnegenooi en vir hom ’n beker koffie aangebied. Ek het ’n groot sluk uit my koppie geneem en aan hom die hele storie vertel.
André het sy pyp opgesteek met die sigaret-aansteker wat my altyd aan ’n gaslamp herinner, en toe ewe besadig gesê: “Jy sien, Poema, dit is die maghebber wat die gang van die geskiedenis bepaal.” Hy het behaaglik gesuig aan sy pyp en toe het hy vervolg: “Jy sien die maghebber is die gevolmagtigde persoon of instansie.
Gevolglik is hierdie mense die ‘diktators’ wat hulle mag misbruik om mense te verdruk en van jou grond beroof. Dis hulle wie gedwonge uitsettings wettig en bepaal wie jy is en wie jy moet wees, ’n ondergeskikte, ’n slaaf of ’n vryman”.
André het klaar gerook. Sy pyp teen sy skoensool uitgekap en toe het hy gegroet.
Ek het lank stilgesit nadat André gery het. Ek het geluister na die gebrul van die motorfiets en toe kom die woorde uit Jesaja 40-55 tot my: “Daar is hoop vir die toekoms.” Ek het in die wegsterwende gebrul van die motorfiets die volgende woorde gehoor: “Maghebbers het Hy van hulle trone afgeruk.”
Die maghebber bepaal die gang van die geskiedenis
Deur Poem Mooney