’n MAN van Royal Heights, Calitzdorp, met die bynaam “Varkie” wat tereg gestaan het op ’n klagte van verkragting van ’n ma van drie kinders, is Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof ingevolge Art 174 van die Strafproseswet, vrygespreek en ontslaan, omdat die vrou onwillig was om met die saak voort te gaan.
Die 27-jarige Max Baans is daarvan aangekla dat hy die aand van 5 Februarie 2022, ’n ma van drie kinders meer as een keer verkrag het, nadat hulle vroeër die aand saam gedrink het.
Hy het erken dat hy geslagsgemeenskap met die klaer gehad het maar dat dit met haar toestemming was.
Die 26-jarige klaer het van die begin van die verhoor die hof meegedeel dat sy nie met die saak wil voortgaan nie omdat Baans ook kinders het na wie hy moet omsien.
Sy het wel getuig dat hy seks met haar gehad het maar dat sy nie vir hom toestemming gegee het nie.
Volgens haar is sy vroegaand huistoe om te gaan slaap omdat sy dronk was.
Sy het later wakker geskrik toe sy iemand aan haar been gevoel trek het en dit donker was in haar kamer.
Haar moeder het getuig dat sy die beskuldigde die Sondagoggend uit die slaapkamer van haar dogter sien kom het.
Haar dogter het haar toe meegedeel dat Baans sonder haar toestemming seks met haar gehad het.
Hy het haar mond toegedruk en ’n mes teen haar keel gedruk.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê dat die kwaliteit van die klaer se getuienis baie swak was.
Sy het by tye ’n vraag of twee beantwoord maar elke keer volgehou dat sy nie met die saak wil voortgaan nie en dan geweier het om op vrae van die staatsaanklaer te antwoord, behalwe dat sy nie met die saak wil voortgaan nie.
Sy het die hof ook meegedeel dat niemand haar gedreig het om nie met die saak voort te gaan nie.
Volgens die landdros het sy goed getuig oor haar persoonlike omstandighede en ook erken dat die beskuldigde twee keer met haar seks gehad het. Sy wou ook nie getuig oor die beserings wat sy opgedoen en in ’n mediese verslag (J88) aangedui word nie.
Sy wou ook nie getuig waarom die beskuldigde eers die volgende oggend weg is huis toe nie.
“’n Beskuldigde kan nie skuldig bevind word op minimale getuienis teen hom nie. Die staat het nie
’n sterk saak waarop die beskuldigde moet antwoord nie en word hy ingevolge Art 174 vrygespreek en ontslaan,” het die landdros afgesluit. (Deur Garnett Wicomb)