Twee moordklagtes teen Beaufort-man

DIE verhoor van ’n man van Beaufort-Wes wat tereg staan op twee klagtes van moord en een van aanranding met die opset om ernstig te beseer, moes verlede Woensdag (5 April) in die Oudtshoorn streekhof as gevolg van te min hoftyd tot 18 April uitgestel word wanneer die staat sal voortgaan met betoë.

Die 35-jarige Raymond Kelley word daarvan aangekla dat hy op 12 Julie 2015 ’n man op die plaas Snydersfontein, met ’n mes doodgesteek het, en op Oujaarsdagaand 2015 ’n vrou in Prince Valley, Beaufort-Wes, doodgesteek het.

Hy word ook daarvan aangekla dat hy op 12 September 2017 sy meisie, Regina Saayman, geskop, en met ’n sambok geslaan het. Kelley pleit onskuldig op al drie klagtes. Hy voer aan dat hy nie moord gepleeg het nie en in albei gevalle net homself verdedig het omdat sy lewe in gevaar was.

Voorts ontken hy dat hy sy meisie aangerand het.

Volgens hom het hulle die betrokke aand ’n paar kuierplekke besoek en gedrink, maar sy jok wanneer sy getuig dat hy haar aangerand het.

Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni met Hyron Goulding as die aanklaer. Adv. Pieter van Wyk verskyn in opdrag van die regshulp-raad namens Kelley. (Deur Garnett Wicomb)