’N 60-jarige man van Mosselbaai wat ’n familielid met ’n mes in sy hart gesteek het oor wyn, en aan moord met direkte opset skuldig bevind is, is op Maandag 3 April in die Oudtshoorn streekhof tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
John Saayman het op 2 Junie 2020 by ’n groep mans aangekom wat besig was om te drink en ook op van die wyn aangedring het.
Die oorledene, Charles Saayman (48), het hom toe meegedeel dat hy nie ’n bydrae tot die aankoop van die wyn gelewer het nie.
Saayman het toe kwaad geword en die oorledene vasgegryp.
Hy het ’n mes uitgehaal en nadat hy die oorledene gesteek het, weggehardloop. Charles Saayman is op die toneel dood.
Die beskuldigde se verweer dat hy die oorledene per ongeluk raakgesteek het, is deur streeklanddros Sylvia Mandla verwerp.
Sy het bevind dat die getuienis van twee staatsgetuies sowel as die geneesheer wat die nadoodse ondersoek gedoen het, nie verwerp kan word nie en Saayman skuldig bevind.
Volgens die mediese verslag is erge geweld gebruik om die steekwond toe te dien.
Die staatsaanklaer, Mervin Saaiman, het die hof versoek om nie af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van vyftien jaar nie omdat geen wesenlike en dwingende omstandighede daarvoor bestaan nie.
Volgens Saaiman was daar geen rede vir die beskuldigde om so op te tree nie. “Die beskuldigde is nie aangeval nie en daar was geen provokasie nie. Hy het al veertig jaar gelede met misdaad begin en sy optrede het kort geval vir ’n man van 60 jaar.”
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Johan Nel, het die hof vir ’n gedeeltelike opgeskorte vonnis gevra.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê sy het die beskuldigde se optrede gedurende die verhoor dopgehou en dat hy geen berou toon nie.
“Die hof moet ’n gebalanseerde vonnis oplê wat billik en regverdig is vir iemand wat ’n persoon se lewe geneem het, en ook sal verhoed dat die gemeenskap die reg in eie hande neem.”
“Die hof neem kennis van die feit dat die beskuldigde al byna drie jaar in aanhouding is maar die redes daarvoor is onbekend aan hierdie hof,” het die landdros afgesluit.
Saayman is tot vyftien jaar tronkstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)