’n EGPAAR van George, Petrus (30) en Frederick van der Westhuizen (35) wat aan diefstal, onwettige besit van ’n vuurwapen en bedrog skuldig bevind is, is op Woensdag 8 Maart in die Oudtshoorn streekhof opgeskorte vonnisse opgelê en vir drie jaar in huisarres geplaas.
Hulle moet ook die klaer se geld aan haar terugbetaal.
Die twee beskuldigdes, wat volgens die hof drie jaar getroud is, het op 31 Oktober 2021 ’n kluis met ’n .22 geweer en ’n Baraca pistool van Martha van der Westhuizen, Petrus se moeder, gesteel, ’n motor gehuur, en daarmee na Gqeberha gery om die aan Francois se pa te gaan verkoop.
Petrus is ook daaraan skuldig bevind dat hy in Februarie 2021 bedrog gepleeg het deur R80 000 van sy moeder sonder haar toestemming na sy eie bankrekening oorgeplaas het.
Martha van der Westhuizen het getuig dat sy nie die beskuldigdes toestemming gegee het om die kluis in haar slaapkamer van die muur los te breek nie.
Sy het haar seun ook nie toestemming gegee vir die oorplasing van die geld nie.
Sy het erken dat sy die pistool aan Frederick se pa vir R300 verkoop het en ontken dat R2 000 daarvoor in haar rekening inbetaal is.
Sy het getuig dat sy nie die geweer kon verkoop nie omdat haar man se boedel toe nog nie afgehandel was nie.
Sy het ook getuig dat sy bang was vir die twee beskuldigdes.
Haar saamleefmaat, Karel Kleynhans, het getuig dat Petrus vir sy ma gesê het dat sy haar mond moet hou toe hy en Frederick na haar kamer is om die kluis te gaan losbreek.
Hy het ontken dat hy van enige kontrakte weet en die twee beskuldigdes gehelp het om die kluis los te maak.
Die beskuldigdes het volgehou dat Petrus se moeder ingestem het dat hulle die kluis kan uithaal en die twee vuurwapens vir Frederick se pa neem omdat hy dit gekoop het.
Die klaer het onder kruisverhoor erken dat sy toegegee het dat haar seun die geld in sy Capitec-rekening inbetaal en haar skuld en prokureursfooie moes betaal.
Toe sy later by hom wou weet waar die res van die geld was, het hy gesê dat sy dit vir hom gegee het. Sy het dit egter ontken.
Oor of sy met die Frederick se pa gepraat het, het sy getuig dat sy nie seker is nie en dalk vergeet het. Sy het egter ontken dat Kleynhans die beskuldigdes gehelp het om die kluis los te maak en sy alles kan onthou wat op daardie dag gebeur het. Die twee se regshulpprokureur, Cindy-Murray Smith, het in haar voorvonnis betoog die hof meegedeel dat die klaer versoek dat haar kinders nie tronk toe gestuur moet word nie en sy net haar geld wil terug hê.
Die beskuldigdes het haar reeds om vergifnis gevra en sy het hulle vergewe.
Murray-Smith het die hof vir ’n opgeskorte vonnis en korrektiewe toesig gevra.
Die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, het nie die versoek van die verdediging teengestaan nie omdat die klaer die beskuldigdes vergewe het.
Hulle is ook eerste oortreders.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die getuienis van die klaer en haar saamleefmaat as betroubaar bevind.
Hulle het gehou by hul weergawes terwyl die twee beskuldigdes mekaar weerspreek het en hul weergawes as vals verwerp.
“Wat die beskuldigdes gedoen het was nie reg nie en die hof moet ’n vonnis oplê wat die regte boodskap uitstuur,” het die landdros gesê.
Die hof het die klagtes vir vonnis saamgeneem en albei beskuldigdes gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Hulle is ook tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat onder meer huisarres vir 24 uur per dag vir die volle drie jaar behalwe vir werk- en kerkdoeleindes behels en hulle weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms.
Voorts het die hof gelas dat hulle die klaer se geld teen R2 000 per maand afbetaal en Woensdag R5 000 aan haar moes betaal.
Hulle is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit. (Deur Garnett Wicomb)