Raaisel hoekom bye by uieblomme verbyhou

Bo: Charles Salmon, wat onlangs by Afrika Apimondia streeksimposium in Durban sy navorsing oor die verskynsel gedeel het. Foto verskaf

Die onwilligheid van heuningbye om soms op uieblomme te werk is een van die groot raaisels in die kweek van uiesaad.

Dit het veral ’n groot invloed op die kweek van uiesaad in die Klein-Karoo, een van die grootste uiesaadproduksiestreke in die wêreld en die land se waardevolste groentesaadoes.

Die uie is van heuningbye afhanklik vir bestuiwing. Maar as die bye besluit hulle is nie lus vir die uieblomme nie, kan niks hulle oorreed om daarop te werk nie.

Kommersiële byekorwe word gewoonlik vir bestuiwing gebruik, maar as die bye nie saamwerk nie, help dit nie eens om dubbel soveel korwe uit te plaas nie.

Die bye sal gewoon verbyhou en op natuurlike veldblomme daar naby gaan nektar en stuifmeel soek.

“Dit bly ’n raaisel waarom bye soms weier om uieblomme te bestuif,” sê Charles Salmon, wat onlangs by die Afrika Apimondia streeksimposium in Durban sy navorsing oor die verskynsel gedeel het.

Charles, wat self met bye boer, is ’n bekende gesig in die Klein Karoo waar hy ’n senior voorligtingsbeampte is van die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

Sy navorsing, die eerste oor die kwessie in die wêreld, het gefokus op hoe besproeiing tydens die blomseisoen die bye se besoeke aan Texas Grano-uiesaad beïnvloed. Daarmee het hy die huidige opvatting dat water natuurlike afweermiddels in die blomme vrystel of dalk die suikerinhoud van die nektar beïnvloed, getoets.

Hy het die uieplante in 56 proefblokke verskillende hoeveelhede water gegee en wanneer en watter bestuiwers, veral bye, die blomme besoek, asook die uiteindelik opbrengs opgeteken.

Hy het bevind dat die hoeveelheid water geen invloed op die besoeke van bye en ander bestuiwers in die oggende gehad het nie, maar tog ’n klein invloed in die middae.

Hy meen daar moet nog baie navorsing gedoen word om vas te stel wat die nektar- en stuifmeelsamestelling van verskillende uiekultivars se blomme is. “Wanneer ’n basislyn vir die aantreklikheid van die kultivar vasgestel is, sal dit moontlik wees om kultivars te kweek waarvan die nektar en stuifmeel meer aanloklik vir die bye sal wees.”

Omdat die stuifmeel van een kultivar na ’n ander oorgedra moet word, is dit ook nodig om vas te stel of die stuifmeel van verskillende hibriede kultivars versoenbaar is. Dis ook belangrik om vas te stel hoe die bye reageer op klimaatsveranderinge.

“Dié inligting sal die bedryf help om vas te stel of dit ’n aanduiding is van moontlike komplikasies met die bestuiwing van uiekultivers deur heuningbye,” sê Charles.

Kontak Charles Salmon by 082 651 7466 of Charles.Salmon@westerncape.gov.za (Deur Tisha Steyn)