Brian pak weer die lang tog aan vir RooikruisKinderhospitaal

BO: Oudtshoorn se langstap-polisieman, ao Brian Daniels (links) en een van sy stapmaats vir die lang tog van Richardsbaai na Kaapstad, Malcolm Johnson. Foto verskaf

OUDTSHOORN se langstap-polisieman, Brian Daniels, gaan weer ’n tog aanpak wanneer hy in Mei vanjaar as deel van ’n span van vyf ’n staptog aanpak ten bate van die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad.

Daniels het in September 2022 nasionaal nuus gemaak toe hy van Oudtshoorn na Kaapstad toe gestap het om fondse in te samel vir die Rooikruis Kinderhospitaal. Hy het voor en tydens sy uitmergelende staptog kaartjies verkoop om geld in te samel vir ’n bydrae tot die kinderhospitaal se trustfonds. Aan die einde van die projek het hy R50 000 ingesamel.

In Mei vanjaar gaan hy van Richardsbaai in Kwa-Zulu-Natal stap na Kaapstad vir dieselfde doel, maar hierdie keer is hy nie alleen nie. Sy storie verlede jaar het so ver oor die land versprei dat ’n span stappers onder die leiding van ene Malcolm Johnson hom genader het om aan ’n meer as 2 000 km-staptog deel te neem wat hulle deur minstens ses provinsies sal neem.

Daniels het aan Die Hoorn vertel dat hy baie opgewonde is oor hierdie nuwe uitdaging wat voor hom lê. Die span sal op 13 Mei wegspring en beoog om teen 17 Junie in Kaapstad aan te kom. Dit beteken die manne sal minsten ’n maand op die pad spandeer – hul stappery sal op ’n aflos-basis plaasvind met elke man wat mik om minstens 20 km per dag aaneen te stap.

“Malcolm en sy span het al op drie geleenthede dieselfde roete aangepak, en dit vind oor omtrent 40 dae plaas. Hulle gaan my die agtste Mei hier kom oplaai dan ry ons deur Richardsbaai toe,” vertel Daniels opgewonde. Volgens Daniels het hy nog glad nie die ander stappers ontmoet nie, behalwe vir Malcolm. “Ek sien baie uit daarna, maar omdat ek nou deel van ’n span is sal dit nie so erg op my voete wees nie,” sê hy. Op sy eenmantog het Daniels met tye tot 50 km per dag gestap.

Sy voorbereiding loop tot dusver goed, vertel hy. Hy het selfs onlangs ’n biokinetikus gaan sien om te verseker sy knieë kan die tog oorleef. Met sy vorige staptog het sy voete teen die einde begin ingee. “Maar tot vandag toe vra mense my daaroor.”

Enigeen wat wil betrokke raak daarby om Daniels te ondersteun kan hom kontak op 060 523 4786. Daar gaan weer lootjies te koop wees teen R100 elk waar twee wenners elkeen ’n halwe lam sal wen. (Deur Stefan Skapie Goosen)