Vandale vernietig ou bank-gebou

DIE ou Standard Bank-gebou in Kerkstraat op Oudtshoorn, wat reeds sedert dit in 1904 gebou is ’n ikoniese baken op die dorp is, word van binne af deur haweloses en vandale geplunder en leeggedra.

Die mees onlangse skokontdekking was op Vrydag 15 Oktober toe Renier Heunis van Pam Golding-eiendomme die gebou wou oopsluit om dit vir ’n voornemende koper te wys. “Dit is toe dat ons agterkom dat die voordeur se slot afgebreek is en die deur oopstaan. Toe ons binne kom was dit duidelik dat mense daar slaap en selfs vuurmaak,” het hy gesê.

Dit is volgens Heunis nie die eerste keer dat vandale die gebou betree en amok maak nie. In die verlede moes hulle staatmaak op polisie-patrollies omdat dit moeilik was om namens die eienaar ’n sekuriteitswag aan te stel.

Volgens Harry Coetzee van Blacklist Security, wat nou aangestel is om die gebou op te pas, is die leë gebou reeds ’n geruime tyd ’n probleem nadat die bank ses maande gelede na ’n nuwe perseel in Hoogstraat verskuif het.

Coetzee het betrokke geraak nadat hy verlede week ’n man voorgekeer het met gesteelde koper-kabels. “Ek het al in die verlede iemand betrap wat daar ingebreek het en het probeer om die eienaar van die gebou op te spoor. Ons het uiteindelik uitgevind die eienaar is in Ierland. Ek het met hulle kontak gemaak en ’n kwotasie aangestuur om die sekuriteit by die gebou te behartig.

“Voor die eienaar my kon antwoord vang ek toe nog iemand – dis nou met die laaste voorval – en hierdie keer het ek gesien die bank is behoorlik geplunder. Ek het toe wéér ’n e-pos vir die eienaar gestuur, en hy’t dié keer ingestem dat ons die plek kan oppas. Die skade is ongelukkig reeds gedoen. Die vorige ouens wat daar gevang en in hegtenis geneem is, is intussen al vrygelaat en hulle kom gereeld terug.”

Coetzee sê dat hy en sy personeel selfs twee aande lank sonder betaling die gebou opgepas het omdat hy uit reaksie op sosiale media kon sien hoe belangrik die gebou vir Oudtshoorniete is. Hy het hande gevat met MSEC en Suiderkruis Sekuriteit en die gebou opgepas totdat die eienaar besluit het wie die sekuriteit van die gebou moet oorneem.

Johan Breunissen, sakeman op die dorp, was by toe Heunis die gebou oopsluit en agterkom hoe vervalle dit geraak het.

“Ek is deel van ’n groep inwoners wat graag sal wil sien dat daar na Oudts-hoorn se geskiedenis omgesien word. Ek voel ook mense moet begin om meer verantwoordelikheid te neem vir die omgewing rondom hulle, wat sal help om ons geskiedenis te bewaar,” het hy gesê.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie persone wat daar slaap verwyder, maar geen saak is aanhangig gemaak nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)