DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het Dinsdag by ’n spesiale raadsvergadering ’n mosie aanvaar dat die kragtoevoer na deernishuishoudings nie vir die volgende drie maande “geblok” sal word nie.
Oudtshoorn se onderburgemeester, Gavin Juthe het die mosie ingedien. Die raad is versoek om alle deernishuishoudings in die Groter Oudts-hoorn-gebied, wat De Rust en Dysselsdorp insluit, tot einde Januarie 2022 tegemoet te kom as gevolg van erge uitdagings weens Covid 19.
Volgens Juthe het die Covid 19-pandemie daartoe gelei dat groot getalle inwoners hul werk verloor het en nie hul munisipale skuld kan betaal nie. Hy het ook gevra dat die munisipaliteit “menslik optree” en redelike ooreenkomste met inwoners aangaan om hul agterstallige munisipale skuld af te betaal.
Die mosie is eenparig aanvaar.
• Die vergadering is tot vandag (Donderdag) verdaag. Items op die agenda wat bespreek gaan word sluit in die reaksie van die direkteur van kor-poratiewe dienste, Reginald Smith, ten opsigte sy voorlopige skorsing weens beweerde finansiële wanbestuur en die moontlike oortreding van die gedragskode vir munisipale amptenare deur oud-burgemeester, Chris Macpherson.
Kragverligting vir dié huishoudings
