DIE saak teen Sidney Berry (25), staan uiteindelik einde se kant toe.
Slotargumente deur die staat en verdediging is verlede Vrydag in die Oudtshoorn landdroshof aangehoor en die saak is tot 30 Mei uitgestel.
Berry was die bestuurder van die motor waarin die 18-jarige matrikulant van Oudtshoorn, Marilize Nortier, in 2019 gesterf het.
Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het toegegee dat die staat nie daarin geslaag het om te bewys dat Sidney Berry (25) versuim het om hulp op die ongelukstoneel te verleen nie, maar hy wel skuldig bevind kan word aan die hoof klagte van strafbare manslag.
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, is egter van mening dat hy ook op dié klagte vrygespreek behoort te word.
Berry is van Groot Brakrivier en pleit onskuldig, het volgehou dat hy nie kan onthou hoe die ongeluk plaasgevind het nie en dat hy beslis hulp sou verleen, indien hy geweet het dat daar iemand in sy motor was.
Die staatsaanklaer het na die opsomming van die getuienis voor die hof gesê dat die beskuldigde nie as ’n goeie getuie gekwalifiseer kan word nie.
“Die beskuldigde het getuig dat hy nooit vinnig ry in ’n residensiële gebied nie en dit is nie ’n goeie antwoord nie, omdat die ongeluk op die Kango Grotte-pad plaasgevind het.” het Jordaan gesê.
Voorts het hy getuig dat hy nie kan onthou wat gebeur het nie maar tog op ’n stadium gesê dat iets voor hom oor die pad kon gehardloop het.
“Die beskuldigde is die enigste wat lig kan werp op wat die ongeluk veroorsaak het maar sê hy kan nie ‘recall’ wat gebeur het nie, terwyl hy kan onthou dat hy met die oorledene op die betrokke pad gery het nadat hy vir Stephen Knoop en die twee Lilly-broers afgelaai het, nadat hulle by Braaikraal gekuier het.”
Sy het toegegee dat daar weersprekings was in die getuienis van staatsgetuies en hul verklarings aan die polisie. “Polisieverklarings na ’n voorval is egter nie ’n breedvoerige beskrywing van wat gebeur het nie terwyl getuienis in die hof meer breedvoerig is,” het Jordaan gesê.
Volgens haar het die meeste van die staatsgetuies die betrokke aand gedrink behalwe die kroegman, Andre Burger. Bans het betoog dat Berry nie ontken dat hy die bestuurder van die ongeluksmotor was nie, dat hy wel daardie betrokke aand op die Kango Grotte-pad gery het, maar nie kan sê wat die oorsaak van die ongeluk was nie.
“Die beskuldigde erken dat daar ’n ongeluk plaasgevind het, dat hy die bestuurder van die motor was en dat iemand gesterf het, maar hy weet nie wat die ongeluk veroorsaak het nie en sy weergawe kan nie deur die hof verwerp word nie omdat dit redelik moontlik waar is,” het Bans betoog. Daar was ook geen ooggetuies nie.
Volgens Bans was Stephen Knoop seker die eerlikste van die staatsgetuies wat die betrokke aan by Braaikraal gekuier het.
“Hy was ’n goeie en betroubare getuie en erken dat hy baie gedrink het,” het Bans gesê.
Hy het ook die ondersoekbeampte, A/O Daromé Burger en Sers Heine Jullies geloof wie se getuienis mekaar gestaaf het, maar volgens Bans blyk dit dat die kroegman se vriendin Moné Rowe, haar getuienis gefabriseer het omdat sy die betrokke aand, volgens haar eie getuienis, heelwat alkohol ingeneem het. So was sy die enigste wat getuig het dat die beskuldigde twee skinkborde met Tequilas gekoop het, terwyl die kroegman, wat nugter was, nie so iets kan onthou nie. Oor die betoning van berou deur die beskuldigde, het Bans gesê die feit dat hy nie met die familie van die oorledene kontak gemaak het nie, nie beteken dat hy nie berou toon nie.
“Die beskuldigde is deur die hof gewaarsku om nie tydens die verhoor oor die saak te praat nie en dit is wat hy gedoen het.”
Die saak dien voor landdros Vaughn Shone en Berry is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)
Uitspraak teen Berry einde Mei
Marilize Nortier